Skip to main content

Wêreldwaterdag word vanjaar op 22 Maart gevier met die tema “grondwater”. Volgens worldwaterday.org is grondwater die aarde se grootste varswaterbron. En, soos klimaatsverandering intree, sal grondwater al hoe meer kosbaar word.

Met die bewaring van een van ons kosbaarste hulpbronne in gedagte, het die ATKV-Goudini Spa besluit om die daad by die woord te voeg met ’n waterprojek waarin gryswater omgeskakel word in bruikbare water vir die oord.

Volgens Waterwise is Suid-Afrika die 30ste droogste land ter wêreld. Ongeveer 77% van ons varswater word deur oppervlakwaterbronne voorsien en 19% word deur grondwaterbronne aangevul. Die oorblywende 14% bestaan uit herwinde water. As gevolg van die geografiese aard van ons land, het Suid-Afrika beperkte waterbronne. Die waterskaarste wat ons ervaar word egter deur meer as net omgewingsfaktore veroorsaak. ’n Tekort aan infrastruktuur en ekonomiese ontwikkeling is die hoofredes waarom 19% van plattelandse gemeenskappe nie toegang tot water het nie. Daarom is dit nodig om hierdie uiters skaars hulpbron na die beste van ons vermoë te bestuur.

Goudini Spa se waterprojek is sedert die begin van Maart in volle werking. Jean-Paul Palm, oordbemarker by Goudini Spa, sê hul span is altyd op die uitkyk vir “groen” inisiatiewe om eko-vriendelik te wees vir omgewingsbewaring en vir die volhoubaarheid van die oord. “Dit was die dryfkrag van ons tegniese bestuurder, LJ Jacobs, wat die watersuiweringsprojek ’n werklikheid gemaak het. Ons by Goudini Spa is baie trots op ons groen ontwikkeling en dat ons nou meer ekonomies met ons water kan wees.

“Sowel Goudini Spa as die natuur baat by die projek omdat ons water nou hergebruik en minder drinkwater gebruik vir algemene take soos skottelgoed en wasgoed. Ons bespaar nou die drinkwater wat ons gewoonlik in ons washuis gebruik het en ons herwin die water wat normaalweg onbruikbaar sou wees.”

Jean-Paul verduidelik hoe die suiweringsprojek werk: “Ons neem ons rioolwater (gryswater) en sit dit deur ons suiweringsisteem tot op ’n punt waar dit veilig is vir menslike gebruik. Dié water is so skoon dit is beter as sekere gebottelde water.” Die water word gereeld deur die Waterraad en ’n onafhanklike maatskappy getoets. Hy sê dié water word egter nie vir drinkwater gebruik nie, maar vir besproeiing en in die wassery op die oord.

Goudini Spa hoop om met hierdie projek ook bewusmaking te skep van hoe kosbaar natuurlike hulpbronne soos water is.