Skip to main content

Daar is dorpies in ons land wat vergete is. Dorpies wat weg van die besige N1-hoofweg is, waar die meeste mense selde kom.

Dit klink dalk idillies, maar vir baie van die inwoners – en veral die kinders – is hul dorpie ’n eiland.

Cradock is so ’n plek. Baie kinders hier het nie toegang tot die internet of behoorlike leesstof nie.

Daarom gaan die ATKV-jeugtak Marlow in die volgende skoolkwartaal ’n projek op dié dorpie van stapel stuur om vir die plaaskinders van die omgewing ordentlike leesstof in te samel.

“Ons gaan met die Baroda- Boek- en Leesprojek vir die kinders die wêreld van stories wys,” sê Nicoli Britz, takvoog van die jeugtak Marlow.

Die leesprojek gaan uitreik na die leerders van die Baroda-plaasskool. Die skool fokus veral op plaaskinders wie se ouers op die plase in die omgewing werk.

“Die armoede is maar groot en baie van hulle kan nie boeke bekostig nie. Daar is ook nie ’n biblioteek by die skool nie.”

Die tak het besluit om tydskrifte en boeke in te samel om aan die skool te skenk.

“Die onderwysers het boekrakke in hul klaskamers en ons wil graag die rakke aanvul, want die boekies wat hulle het, is al voos gelees.”

Volgens Nicoli beplan hulle ook om ’n toneelstuk by die skool vir die leerders op te voer.

“Die kunste kom nie regtig by hulle uit nie en almal moet die geleentheid kry om stories en die kunste te ervaar.”

*Kontak gerus vir Nicoli (takvoog) by 071 552 5649 of die streeksbestuurder Gertjan Holtzhausen by 082 563 34457 / GertjanH@atkv.org.za as jy enige boeke het wat jy wil skenk.