Skip to main content

As jy jou in Uitenhage in die Oos-Kaap bevind, moet jy nie verbaas wees as jy ’n klomp rakkers met hul neuse in boeke sien nie. Dít te danke aan die ATKV-tak Uitenhage. Dié tak se hooffokus is leesbevordering en om boeke aan alle kinders beskikbaar te maak.

“Dit is vir ons baie belangrik dat die kinders in ons gemeenskap lees en die wonderwêreld van stories ontdek,” sê Kallie Calitz, voorsitter van die ATKV-tak Uitenhage.

Die tak het onlangs ’n projek aangepak waarin hulle ’n ou boekrak gerestoureer en geverf het.

“Ons het toe onder al ons lede kinderboeke en kinderrolprente ingesamel en skenkings ontvang totdat ons die boekrak kon vol maak,” sê Kallie.

Hulle het die BoekArk aan die Laerskool Winterberg se gr. R-klas geskenk.

“Die kinders was baie opgewonde en het dadelik begin lees.”

Die tak het op dieselfde dag ’n poppekas vir die kleintjies aangebied.

“Ons het sommer besluit om twee projekte op dieselfde dag te doen. Die poppekas het gegaan oor hoe om jou lyf op te pas en gesond te lewe.”

Kallie sê die tak se leesbevorderingsprojek loop regdeur die jaar.

“Ons versamel Afrikaanse boeke en skenk dit dan aan minderbevoorregtes.”

Hulle is ook soos al die ander takke in die land besig om groen vingers te kweek en is betrokke by die Seed2Harvest-projek waarin gemeenskappe geleer word om selfonderhoudend te wees.

Die takke identifiseer gesinne of individue wat gretig is om tuin te maak en gee vir hulle ’n gereedskapkis en sade, kunsmis en ’n handleiding oor hoe om jou eie groentetuin te kweek.

“Ons het al aan een persoon so ’n boksie gegee en hy het reeds sy groente geplant. Ek gaan loer elke week in en jy kan sien hy is baie passievol oor tuinmaak.

“Ons is nie ’n tak wat stilsit nie. Ons is dalk naby aan die see, maar hier is nie tyd vir vakansie hou nie.”

Klik hier as jy betrokke wil raak of by ’n ATKV-tak wil aansluit.