Skip to main content

Jou taal kán vir jou die weg tot sukses baan. Dit was die kernboodskap by vanjaar se Ommietafelgesprek tydens die vyfde Adam Small-fees, wat op Saterdag 26 Februarie in Pniël gehou is. Die gesprek is aangebied deur die Vriende van Afrikaans (VVA), ’n divisie van die ATKV, en die Pniël Erfenis-en-Kultuurtrust. Chareldine van der Merwe, projekbestuurder by die VVA, sê die VVA probeer met hierdie gespreksreekse om gewone mense en meningsvormers in die gemeenskap te stimuleer om hul omgewing te beïnvloed tot voordeel van Suid-Afrika. “Ons glo dat die burgerlike gemeenskap sy deel moet doen en die verantwoordelikheid het om van die land ’n sukses te help maak.”

Die tema van vanjaar se Adam Small-gesprek was “Hoe baan jou taal ’n weg tot sukses?” Die paneel het bestaan uit Julian Jansen (joernalis, skrywer, woordvoerder en mediapersoonlikheid) en Lyntjie Jaars (storieverteller, kunstenaar, radio- en televisie-aanbieder), en René Arendse, gemeenskapskoördineerder in die Wes-Kaap vir Afrikaans.com, as gesprekleier. René sê dit was belangrik om die gesprek se sterk boodskap – dat jou moedertaal vir jou die weg tot sukses kán baan – aan veral ouers oor te dra. “Ons is ’n generasie wat glo dat jy jou kind in Engels as eerste taal moet opvoed. Dat Engels vooruitgang bring. Maar die sprekers het dit duidelik gestel dat jou moedertaal, Afrikaans, wel die krag en vermoë het om jou sukses te laat behaal in die loopbaan wat jy kies,” sê René.

Sy sê dié twee sprekers was die regte keuse vir vanjaar se gesprek. Lyntjie praat “Afrinama” (Namakwa-Afrikaans) en dit is juis haar taal en dialek wat soveel deure vir haar oopgemaak het. Dit was toe sy haar eerste werk as omroeper by Radio Nfm gekry het dat sy besef het hoe sy klink en praat is haar konneksie met mense. Mense kon hulle met haar vereenselwig, hulle het gevoel hulle ken haar, sê René. ’n Vraag wat aan Lyntjie gevra is tydens die gesprek, was wat die uitdagings was wat sy moes oorkom. Sy het geantwoord dat sy ’n doelbewuste keuse moes maak om outentiek en eg te bly aan wie sy is en waar sy vandaan kom. Daardie jare is daar aan haar gesê sy moet asseblief “regte” Afrikaans praat om meer “hoofstroom” te klink. “Sy het besluit om te hou by wie sy is en het haar moedertaal aanhou praat,” sê René. “Want dít is wie Lyntjie Jaars is.”

Julian was eers onderwyser. Hy is vandag ’n suksesvolle en bekende joernalis. Dit is juis deur sy kuns, die gebruik van sy taal, dat hy sukses behaal het, sê René. Julian se boek, Seuns sonder pa’s, is verlede jaar uitgegee. Deur sy skryfwerk en storievertelling in sy moedertaal kon hy met dié boek nie net genesing bring aan ander nie, maar ook vir homself.

René sê albei sprekers was ’n reuse-inspirasie vir veral die jongmense in die gehoor. “Hul oë het begin blink, want hulle het besef dat as hulle eienaarskap neem van wie hulle is, van hul identiteit en hul taal, hulle werklik sukses kan behaal. Dat taalgebruik juis ’n waardevolle stuk gereedskap is vir ’n suksesvolle lewe,” sê sy.