Skip to main content

Die Biblioteek- en inligtingsvereniging van Suid-Afrika (LIASA) vier van 14 tot 20 Maart Suid-Afrikaanse Biblioteekweek met die tema "Herverbeel! Herbenut! Herontdek … Biblioteke!" Biblioteke ly steeds onder die Covid-19-pandemie en baie voer ’n sukkelbestaan. Volgens LIASA is dit vir vele biblioteke ’n reuse-uitdaging om dienste op ’n betekenisvolle manier te lewer. Dit is een van die ATKV se doelstellings om ’n leeskultuur te vestig en veral onder die jeug aan te moedig. Daarom is die organisasie vuur en vlam oor gebeurtenisse soos Biblioteekweek wat die kollig op die rol van biblioteke laat val en gemeenskappe bewus maak van die belangrikheid, en lekkerte, van lees. Die Vriende van Afrikaans (VVA), ’n divisie van die ATKV, bied verskeie projekte aan waardeur hulle ’n leeskultuur wil vestig en aanmoedig.

Die ATKV het gaan kers opsteek by René Schoombee, hoof van die Durbanville- openbare biblioteek. Haar passie is leesbevordering onder die jeug en die bemarking van lees en biblioteke. René het onlangs tydens ’n webinar van die SA Onderwysersunie wenke gegee oor hoe om ’n liefde vir lees by kinders te kweek. Sy het ook gefokus op biblioteek- en leesprogramme wat aangebied kan word om so ’n liefde aan te wakker.

Navorsing dui daarop dat leerders wat nie kan lees nie, nie akademies kan presteer nie. René sê dit is vir skole ’n groot uitdaging om leerders gemotiveer te kry om daagliks te lees. "Kinders vereenselwig lees met leer en daarom is dit belangrik om lees as ’n pretaktiwiteit te bemark. Die doel van projekte wat op kinders fokus is om die pretfaktor in te bring en kinders byvoorbeeld te beloon vir die aantal boeke wat hulle lees of die tyd wat hulle aan lees afstaan. Selfs onwillige lesers het vrywillig begin lees met suksesvolle projekte soos hierdie."
Volgens René koördineer die Stad Kaapstad se biblioteekdiens ongelooflike leesprogramme. Die programme, waarvan die doelwit is om die biblioteekvoorraad en dienste aan die jong gebruiker bekend te stel, word aan die 101 biblioteke in die stad gekommunikeer en elke biblioteek sit dan sy eie stempel daarop. Die kinders ontvang sertifikate vir deelname. 

Boeke moet onder die jeug bemark word, meen René. "Die doel met leesprogramme is om lees te bevorder, maar die jeug gaan nie lees as hulle nie kennis het van wat beskikbaar is nie. Daar is ’n magdom jeugboeke beskikbaar, uitstekende skrywers poog om vir ons jongmense die beste boeke voort te bring."

Sy maak ’n punt daarvan om bibliotekarisse bewus te maak van hoe belangrik dit is om self die boeke te lees sodat hulle ingeligte raad oor leeskeuses kan gee.

"Die biblioteek is veel meer as net ’n gebou waar boeke gehuisves word. Dit is ’n ruimte vir ontspanning, om inligting in te win, leesstof te bekom, programme by te woon en jouself te 'verloor' in die wonderwêreld van boeke en ander biblioteekmateriaal soos CD’s, DVD’s en tydskrifte," sê René.

Sy fokus op dienslewering aan biblioteekgebruikers. "’n Netjiese, goed bestuurde biblioteek waar personeel toegelaat word om hul passie uit te leef lei tot gelukkige gebruikers." Biblioteekweek is die ideale geleentheid om jou plaaslike biblioteek te ondersteun.

Die ATKV het ook verskeie projekte wat ’n leeskultuur wil help skep. Klik hier en maak vandag ’n blywende verskil in ’n kind se lewe.