Skip to main content

Sowat 180 km noordoos van Kaapstad lê die dorpie Touwsrivier, wat in 1877 begin het as ’n spoorwegstasie. Met die stelselmatige ineenstorting van die Suid-Afrikaanse spoorwegstelsel ná 1994, het die dorp voor groot uitdagings te staan gekom. Werkloosheid en armoede het meteens aan baie mense se voordeur kom klop.

Clemence Thomas, voorsitter van die ATKV-tak Tehilah, het sowat 18 jaar gelede teruggekeer na sy grootwordplek. In daardie jare wou die banke nie eens aan hom ’n huislening toestaan nie, want, het hulle gesê, Touwsrivier gaan ’n spookdorp word. Tog was dit nie die geval nie. Ten spyte van die hoë werkloosheidskoers, is daar genoeg verskilmakers in die dorpie om seker te maak dinge gaan nie heeltemal ten gronde nie.

Dit is juis die ATKV-tak wat in hierdie dorp ’n groot verskil maak. Clemence vertel hy en ander ATKV-lede het aan die begin van die Covid-19-pandemie besef hulle kan nie hande gevou sit nie. Daar is besluit om ’n soort sensusopname te doen om die gemeenskap se behoeftes te identifiseer. Van die lede het van deur tot deur gegaan met ’n vraelys en só is vasgestel waar die nood die grootste is. Die inligting is gebruik om seker te maak kospakkies en skenkings kom by diegene uit wat dit die nodigste het. In 2021 het dié tak ook na die plaasgemeenskap uitgereik en met ’n skenking van R16 000 van Knowledge Pele en ’n bydrae van die ATKV is komberse aan die plaasgemeenskappe uitgedeel.

“Toe ek destyds by die Touwsriviertak van die ATKV aangesluit het, het ons sommer iewers in iemand se huis vergader. Mettertyd het die tak so gegroei dat ons in Touwsrivier Primêre Skool se personeelkamer ons takvergaderings gehou het. Deesdae is die personeelkamer ook veels te klein en ons kom nou sommer in die skoolsaal bymekaar,” gesels Clemence.

Hy sê die tak het verskeie projekte hierdie jaar. Met ’n sensusopname wat hulle verlede jaar op die plase in die omgewing gedoen het, het hulle bewus geword van twee jongmense wat aan tersiêre instellings studeer. Daar het intussen nog twee bygekom. Drie van die vier is studente aan die Boland Kollege op Worcester en moet elke dag daarheen reis. Dit maak dit dan moeilik om in die aande terug te keer plaas toe. Tans woon die leerlinge by een van die ATKV-lede in haar huis op Touwsrivier, maar daar word nou planne beraam om ’n wendyhuis in die lid se tuin op te rig waar die jongmense sal kan woon.

Nog ’n projek is om geld in te samel vir twee leerders van Steenvliet Primêre Skool wat elkeen ’n digbundel met hul eie gedigte saamgestel het. Daar word ’n groot braaivleis vir 2 April beplan as fondsinsameling om die leerders te help om dit gepubliseer te kry. Terselfdertyd sal daar sommer lekker gekuier word, sê Clemence.

Vir later in die jaar word daar ook ’n spogfunksie soortgelyk aan die ATKV se Veertjietoekennings beplan om mense van Touwsrivier wat ’n besonderse prestasie gelewer het, te vereer. Hiermee wil die ATKV-tak Tehilah almal in die gemeenskap aanmoedig om hul drome na te jaag.

’n Ander lekker projek van hierdie tak is die ekstra wiskundeklasse wat hulle in die week en op Saterdagoggende aanbied. “Ons tak gee ook iets te ete om mense só aan te moedig om die klasse by te woon,” sê Clemence. “Baie Saterdae kry ons ook kinders wat dit bywoon, gewoonlik net om ietsie te ete te kry, maar dis dan die ideale kans om hierdie kinders te help met wiskunde en geletterdheid. Op dié manier kan ons die agterstand wat Covid op skoolprestasie veroorsaak het, kleiner maak of uitwis.”

Op die ou end lê die grootste beloning vir al hul harde werk in elkeen wat uitstyg bo sy of haar omstandighede. Kinders moet kan droom, sê Clemence, en wanneer die ATKV-tak ’n kind of volwassene kan help om drome waar te maak, was die harde werk nie tevergeefs nie.

“Dis goed om te weet ons tak skep die nodige platform aan enigeen wat ’n verskil wil maak en nie weet hoe om dit op sy eie reg te kry nie. Saam kan ons die ding doen.”

Klik hier as jy betrokke wil raak of by ’n ATKV-tak wil aansluit.