Adam Small-fees: Crescendo-konsert bekoor

Die onlangse ATKV-Crescendo-konsert tydens vanjaar se Adam Small-fees in Pniël was ’n viering van Small se woorde op die maat van musiek.
Die tema van vanjaar se konsert was “Kô laat ons dans”, ’n verbuiging van “Kô lat ôs sing”, een van Small se gedigte. Met uitstaande optredes deur kunstenaars Frazer Barry, Brandon October en Selby Williams, ondersteun deur die talentvolle Crescendo-orkes onder leiding van musikale direkteur William Jacobs Jr, was dit ’n besliste hoogtepunt.
Die gehoor is meegesleur en die ritme van die musiek het oud en jonk op hulle voete gehad. Dié wat nie gedans het nie, het hul selfone uitgehaal om die dansende gehoor en skouspelagtige vertoning op te neem.
Bekende liedjies wat die ruimte van die Pniël Congregational Church gevul het, is: “Dans innie reën” en “Doemanie” (ter ere van Small gesing deur Brandon October), “Ewig en nou”, “Deur die vallei” en “Munhu Wangu” (gesing deur Williams en October).
Selby Williams het “Goema Koor” van Jodi Jantjies, ’n onlangse Crescendo-finalis, in ’n keurspel met Miriam Makeba se “Pata Pata” en “The Click song” gesing – dié keurspel het gaste genoop om hul litte te skud.
October het Small se nalatenskap geprys.
“Small het amok in sy taal gemaak – hy het skaamteloos daarmee omgegaan in ’n tyd toe hy sy mond moes hou. Hy was van postuur klein, maar ’n reus op die blad waarop hy homself kon uitdruk.”
Volgens Morné van Staden, projekkoördineerder van ATKV-Crescendo, is daar in 2025 besluit om iets anders op die planke te sit.
“Die 2023- en 2024-produksies was tipiese Crescendo-Platformsessies-produksies, beide getiteld ‘Klawerjas’. Vir 2025 wou ons iets skep wat wegbeweeg van musiek en filosofie. Die pakket moes meer spreek tot die genot, blydskap en vreugde wat die fees vir mense bied en natuurlik ook Adam Small en sy werke betrek.
“Die keuses was baie eenvoudig om te maak – ons weet dat die Crescendo-orkes lewe kan gee aan enige produksie. Ons musikante en ons musikale direkteur, Jacobs, bly maar net asemrowend talentvol.
“Wat die drie kunstenaars betref, wou ons nog altyd iets saam met October en Barry gedoen het. Met Frazer se tipiese eiesoortige eg Suid-Afrikaanse folk met so bietjie jazz en hip-hop klanke, saam met Brandon se rock-, pop- en klassieke aanslag, kon dit mos net magic wees. Voeg Crescendo-kunstenaar Williams by, wat enige liedjie ’n treffer maak en weet hoe om ’n gehoor deel te maak van elke oomblik, en jy het ’n wenresep.”
Die liedjiekeuse
“Die opdrag aan die span was eenvoudig: ‘Kom ons laat die mense dans.,’” vertel Van Staden. “En dis wat hulle gedoen het – van oud tot jonk was op die dansvloer. Selfs Janine Myburgh, voorsitter van die Pniël Erfenis- en Kultuurtrust en haar span, was voor in die koor toe daar gedans moes word.”
“Hierdie derde produksie wat deur ATKV-Crescendo vir die Adam Small-fees vervaardig en geborg is, het ’n nuwe standaard gestel vir toekomstige geleenthede. Met die fokus op lewendigheid en gehoorvreugde, sien almal reeds uit na die volgende konsert, met die hoop om steeds vars idees en musiek na die mense van Pniël en na feesgangers te bring.”