Adam Small-fees vier jong stemme
By vanjaar se negende Adam Small-fees, aangebied deur die Pniël Erfenis- en Kultuurtrust (PEKT) in samewerking met die ATKV en VVA op Pniël in die Dwarsriviervallei, het die kalklig geval op “Adam Small en die jeug”, Internasionale Moedertaaldag en huldeblyke aan die wyle digter en skrywer, Diana Ferrus.
Maar voor die fees amptelik op Vrydag afgeskop het, is sertifikate aan leerders uitgedeel van Simondium Primêr, Pniël Primêr en PC Petersen Primêr in Kylemore.
Leerders van die verskillende skole het vroeg byeengekom om harde applous te gee vir hulle skoolmaats wat aan die ATKV-skryfwerkswinkels verlede jaar in Julie en Oktober deelgeneem het. Tydens die skryfwerkswinkels het die jong kreatiewe geeste die geleentheid gehad om aan hulle gedigte en prosastukke wat hulle gelewer het, te gaan slyp.
Anzil Kulsen, skryfskoolaanbieder en skrywer, is trots op die leerders se uitsonderlike deelname. ’n Rekordtal inskrywings van 34 laerskooldeelnemers het ingeskryf, saam met 39 hoërskoolleerders.
Volgens Anzil het die programleier, Darryl David, vir haar gevra om ligter temas vanjaar te kies, want die swaar temas tref ’n diep emosionele snaar wat die gehoor aan die huil sit.
“Selfs met die ligter en meer toeganklike temas soos “Ek is my eie superheld” en “So stap ek my toekoms in”, het die jong skrywers steeds sosiale kwessies en hul emosionele omstandighede in hul skryfwerk aangespreek.
“Die leerders het diep in hulle binneste gaan delf om wat in hulle harte lê en lewens aangaan aan die wêreld bloot te lê. Die feit dat hulle die pen as instrument en uitlaatklep gebruik, bly ’n riem onder die hart,” sê Kulsen.
Soos die jong skrywers hulle toekoms instap, het hulle hulself byvoorbeeld gesien as ’n mediese dokter, ’n kardioloog en ’n atleet wat met nuwe tegnologie ’n nuwe toekoms vir ons jeug skep.
Die wenners van die onderskeie afdelings het die Vrydagmiddag in ’n voorleessessie op die verhoog verskyn waar hulle met die wensertifikate bekroon is. Hulle moes ook hulle boeiende skryfwerke voorlees wat luide applous uitgelok het.
Een jong skrywer het geskryf: “Ek sien my trane nie meer as ’n swakheid nie, maar as water wat iets laat groei.”
Volgens Reschke Horton, wenner van die gedigtekompetisie vir hoërskole, kan ’n mens enigiets in die lewe bereik wat jy jou voorneem. As jy ontdek dat jy goed is in iets, hou eenvoudig aan daarmee.
Die wenner van die kortverhale, Shanlin Adams, sê sy weet wat sy wil wees, maar as ’n bruinmens is dit moeilik om jou volle potensiaal te bereik. Sy besef egter dis nou moontlik.
“Ek het myself voorberei vir ’n verloor, toe was dit vir my ’n groot verrassing. Die storie het uit my hart gekom en dis dalk hoekom ek gewen het,” vertel sy trots.
Danikah Ackerman, wat tweede gekom het in die kortverhaal-afdeling, het die gehoor dadelik geboei met haar toekomsdroom: “Ek het al drie keer probeer om alles te stop; drie keer gedink dis makliker om net op te hou asemhaal, as om nog ’n dag te verstaan hoekom ek hier is...
“Ek het hierdie droom om ’n kardioloog te word, om mense se harte te red, terwyl ek nog leer om my eie te verstaan. Mense lag soms as ek dit sê, en ek lag saam, maar binne my dink ek, jy weet nie wat ek al oorleef het nie. Ek weet die pad vorentoe gaan moeilik wees – ek gaan val, ek gaan twyfel, ek gaan huil, maar ek gaan opstaan, want elke litteken op my siel wys ek is hier.
“Ek het al opgegee, maar nooit vir goed nie. Ek kyk vorentoe, voel hoe my hart stadig maar seker klop. Só stap ek in my toekoms – nie perfek nie, nie seker nie, maar wel lewendig – en dit is genoeg.”
Hier is die wenners van vanjaar se ATKV-skole skryfkompetisie:
Laerskool:
- Ragin Jansen
- Graychael Jooste
- Jonelle Rhode
Hoërskool:
Kortverhale:
- Shanlin Adams
- Danikah Ackerman
- Haylie Asia
Gedigte:
- Reschke Horton
- Haylie Asia
- Mikah Swartz