Adam Small-fees vier taal, kuns, dans

“Taal, soos ons weet, is ’n sak en ’n half meer. ’n Atmosfeer. ’n Spesiale teenwoordigheid, ’n presence. Dit dra die volle lot en noodlot van die mense wat dit praat.” – Adam Small (Die Burger, 2003)
Terwyl Breyten Breytenbach se lewe op Sondag 23 Februarie 2025 by die Breytenbach-sentrum op Wellington gevier is, is ons ander groot digterlike legende en Hertzogpryswenner, Adam Small, se lewe en bydrae tot Kaaps, ’n variëteit van Afrikaans, in Pniël gevier.
Die agtse Adam Small-fees, aangebied deur die ATKV en die Pniël Erfenis- en Kultuurtrust, is by die slawemuseum in die Dwarsriviervallei gehou. Dit was ’n belangrike kulturele geleentheid met die soeklig op die vele gesigte van Afrikaans, en ’n spesifieke fokus op Kaaps en die taal van die Kaapse bruin mens.
Vanjaar se tema was “Kô laat ons dans” – ’n verwysing en verbuiging van die woordsmid Small se gedig, “Kô laat ons sing”.
Hierdie fees beklemtoon die rykdom van Afrikaans as ’n taal wat nie net akademies en literêr is nie, maar ook diep gewortel is in die alledaagse leefwêreld van mense uit verskillende gemeenskappe soos Pniël en die Boland-omgewing.
Al is Small in Wellington gebore, is die fees in 2017 in Pniël begin, ter bewusmaking van dié dorp se slawegeskiedenis. Small is in 2016 oorlede, wat ook sy tagtigste jaar sou wees. Die fees is deur die Pniël Erfenis- en Kultuurtrust (PEKT) en Darryl David begin as ’n geskenk vir die mense van Pniël. David, bekend om sy inisiatiewe om boekefeeste in kleiner dorpies – soos die Boekbedonnerdfees in Richmond – te vestig, het dié fees geskep met die droom om Adam Small se nalatenskap lewendig te hou.
Vanjaar het die program hoofsaaklik in die slawemuseum se teetuin en die Pniël Congregational Chruch se saal afgespeel.
Die fees se opkoms het aansienlik gegroei en die laaste aand se jol in die kerksaal tydens die lewendige ATKV-Crescendo-vertoning met Selby Williams, Brandon October, Frazer Barry en en die Crescendo-orkes, het Small se stelling bevestig: “Afrikaans kan slegs voortbestaan solank mense Afrikaans praat.”
Vier Small se nalatenskap
“Dit was inderdaad een om oor huis toe te skryf … Dit gaan nie net oor Small nie, dit gaan oor die nalatenskap, dit wat hy nagelaat het, oor die deure wat hy oopgemaak, oor die feit dat lees en skryf vir jou wêrelde kan oopmaak. Om te skryf is ’n uitlaatklep uit hul omstandighede. Dat daar soveel talent onder ons mense is, is iets om te vier,” skryf Janine Myburgh, die voorsitter van die PEKT, na afloop van die fees.
So ’n samekoms dien ook as ’n platform vir digters, dramaturge, musikante en ander kunstenaars om hul werk ten toon te stel. Dit bied geleenthede vir gesprekke en besprekings oor die status van Afrikaans en sy variëteite, asook oor die rol van taal in identiteitsvorming en gemeenskapsontwikkeling.
“Ons soek al die pad na gemeenskaplike grond, om verby die ‘ons’ en ‘julle’ te kom, en na die ‘ons’ te beweeg,” het Willem Fransman tydens die fees gesê.
Die bekende akademikus, prof. Michael le Condeur, sê die fees illustreer vir hom waaroor kuns en die letterkunde gaan.
“Ons moet dit op klein skaal kan vier – as ’n mens ander bewus maak van die waarde van jou unieke taal, glo ek dit gaan soos ’n veldbrand versprei oor die hele land, dan sal ander waardering kry vir wat eie aan ons is. In taal is waardes vasgevang en kan ons ons uitleef as mense. Soos Small gesê het: ‘Kan ons volwaardig mens wees.’”
Boekvoorlesings deur skrywers, Ena Jansen (Max Havelaar), Theresa Papenfus (Sing, Mamma, sing), en Mia Arderne se beskrywing van sogenaamde yaadt-musiek, was die perfekte wyse om die fees af te skop met aktuele onderwerpe soos kolonisasie, ’n ma se liefde vir haar kind en dansmusiek wat by tavernes (smokies) gespeel word.
Kry die woord by die kinders
“Hierdie is ’n baie inklusiewe fees, aangesien die VVA se skoleprogram by die fees ook leerders se skryftalent te ontgin,” sê skrywer Anzil Kulsen, aanbieder van die skryfskoolprogram.
“As jy met kleiner kinders begin werk, onderstreep jy die noodsaaklikheid van gesprekke oor taal en skryf en bemagtig jy hom of haar om ’n opinie te hê en aan gesprekke deel te neem.
Die skoleskryfprogram gee leerders van Kylemore, Simondium en Pniël die geleentheid om hulself op papier uit te druk en hul kreatiewe stemme te ontwikkel.
Vanjaar se skryftema was “My belangrike reis” of “Dit is wat ek is”. Die leerders kon skryf oor enigiets, maar het dikwels onderwerpe soos geestesversteuring, geweld en kinderverwaarlosing aangeraak.
Kô laat ons dans
“Al die temas op vanjaar se fees het wonderbaarlik saamgeval met die tema van dans en ritme op die maat van musiek en woorde, al was dit heel toevallig,” sê Myburgh.
Van die boekegesprek as deel van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans se Internasionale Moedertaaldagviering, Rielritme met Monique Seigels en Zenobia Kloppers, tot dansers wat die slapriem op die vloer demonstreer, het dans en ritme ’n groot deel van die program uitgemaak.
Platform vir die gemeenskap
“Hierdie fees is ’n belangrike gemeenskapsfees, maar kan ook ’n nasionale viering wees. Dalk kan ’n mens vra hoe kan die groter feeste ’n fees soos hierdie ondersteun, want dis ’n fees met ’n gesprek oor die gemeenskap met die gemeenskap. Dit kom uit mense se harte, en is absoluut wonderlik,” sê Karen Meiring, voormalige uitvoerende hoof van die KKNK.
“Die fees gaan voort, want ons doen dit vir die liefde van ons taal en kultuur. So, baie, baie dankie aan almal wat die liefde deel en die fees moontlik en meegemaak het,” sê Myburgh.
* Die borge tydens vanjaar se fees was die ATKV, Het Jan Marais Nationale Fonds, Bethlehem-plaas 1696, die Universiteit Stellenbosch, die Stellenbosch-munisipaliteit, Afrikaans Amptelik 100 en die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA).