Afrikaans moet gevier word – Cindy Swanepoel

Die ATKV het vier “lekker” landgenote ingespan om sy nuwe veldtog vlytig aan die volk oor te dra. Met die tema “Belê in jouself, belê in die toekoms” en die hutsmerk #weesdieverskil wil die vereniging sy strewe daarna om in Afrikaans ’n verskil te maak wyd laat weerklink.
Cindy Swanepoel is een van dié vier en het geen bekendstelling nodig nie. Die ATKV het ’n bietjie met haar gesels om meer uit te vind oor haar belangstellings.
Wat is jou gunsteling- Afrikaanse woord?
“Liewenheersbesie”
Wat dink jy van die voortbestaan van Afrikaans en die diskoers daaroor?
Ek dink nie Afrikaans is besig om uit te sterf nie, die sprekers moet net aanpas by die tye. Mooi Afrikaans moet wel gevier word.
Wie is jou gunsteling- Afrikaanse sanger?
Laurika Rauch
Hoe dink jy kan jy ’n verskil in Suid-Afrika maak?
Ek dink respek vir mekaar en goedhartigheid is ’n begin. ’n Mens moet ook ’n bietjie moeite doen om mekaar se kulture te verstaan. Leer ’n paar woorde in ’n ander taal. Leer om te groet in ’n ander taal. Ons as Suid-Afrikaners is so divers en dit moet omarm word!
Hoe belê jy in jouself?
Ek oefen hard en kyk na my gesondheid. Ek werk aan selfaanvaarding en om myself lief te hê. Ek probeer om dankbaarheid te leef. Ek is lief vir stap en die natuur – ek sê altyd ek “bederf my oë” deur in die natuur te wees.
Het jy ’n gunsteling- Afrikaanse gedig?
“Ek wil” deur Antjie Krog.
Watter Afrikaanse skrywers lees jy graag? Is daar ’n boek wat vir jou uitstaan?
Definitief Dalene Matthee – Kringe in ’n bos en Fiela se kind is twee van die beste boeke wat ek nog in Afrikaans gelees het.
Hoe sien jy die die rol van die ATKV in 2021?
Baie belangrik. Ons het tans nie teater nie. Hedendaagse vermaak is realiteitsreekse. Ons moet opnuut aan ons kultuur- en kuns-wortels herinner word – dis die rol van kultuurorganisasies.