Afrikiti bied eersdaags vermaak vir elke smaak
Feeskatte kan solank begin regmaak vir die tweede Afrikitifees, wat vanjaar op 9 September by ATKV-Buffelspoort aangebied word. Volgens Reyno Wepener, feesorganiseerder en die bemarkingsbestuurder by ATKV-Buffelspoort, gaan hierdie jaar se fees selfs nóg meer plesierig wees as die vorige een. Toutrek, jukskei, toneel, dans, sweepslaan, musiek, watertandkos om van te kies en te keur, draadkardemonstrasies, boogskiet en honde- en slangvertonings is maar net ’n paar van die hoogtepunte op die feesprogram.
“Eintlik is elke item op die program ’n hoogtepunt. Met die slagspreuk, ‘Jou taal- en kultuurfees’, spreek die Afrikitifees elke aspek van taal en kultuur aan. Ons sluit geen komponent van ons Afrikaanse kultuur uit nie,” sê Reyno. “Avontuur, kunste, toneel, sport, dit wat jy drink en eet … dit is kultuur in sy geheel wat ons op die fees aanspreek. Dit is ’n gemeenskapsfees. Wat ons doen, is om vir ons gemeenskap te sê, kom kyk na die talent uit jou midde en kom deel daarin.”
Vir motorentoesiaste sal daar ’n saamtrek wees van ou klassieke motors en Harley-Davidsons, motor- en karavaanagentskappe. Sepie-aanhangers kan uitsien na vertonings deur hul gunstelingakteurs uit Binnelanders en Diepe waters.
Reyno sê Afrikiti se suksesresep is dat dit by ATKV-Buffelspoort aangebied word, waar daar op dié naweek reeds 2 200 besoekers sal wees wat deur ringbal-, jukskei-, toutrek- en boogskiettoernooie gelok word. “Dit is buiten die voete wat die fees self lok,” sê hy.
Hierdie jaar is die kosstalletjies die plaaslike kerke se verantwoordelikheid en word daar op dié manier ook teruggeploeg in die gemeenskappe wat deur die kerke gedien word. Daar is ook aanbiedings deur die bekende kykNET-kostowenaar, Herman Lensing, en Vaatjie van Toks & Tjops maak ook ’n draai.
“Ons het ook ’n opvoedingselement by die program gevoeg. Só sal daar slangvertonings wees om mense op te voed oor slange en hoe om slange te identifiseer en nie sommer voor die voet dood te maak nie. Die DBV bied hondevertonings aan en ook praatjies oor hondeversorging. Dalk kan jy selfs ’n vierpootvriend aanneem,” sê Reyno.
“Feeste soos dié is geweldig belangrik vir die gemeenskap waarin dit aangebied word om Afrikaans en sy kultuur aan die gang te hou. Dit is ’n platform in ons area om skole en kerke betrokke te maak en ’n platform te gee om te spog met hul talent.”
“Ons doel is om Afrikiti nie net vir Afrikaanse mense te hou nie, daarom betrek ons ook ander gemeenskappe om saam fees te vier. My filosofie is, hou jou kultuur vir jouself en jy verloor dit – deel jou kultuur en dit bly behoue.”
Die toegangsfooi na vanjaar se fees beloop R80 vir volwassenes en hoërskoolleerders, R50 vir laerskoolleerders, en kinders onder 7 jaar gaan gratis in. As deel van jou toegangsfooi moet jy ’n blikkie honde- of katkos saambring.
Besoek gerus die fees se webblad by www.buffelspoort.co.za/afrikitifees vir meer inligting en die volledige program.