Andante Plus50: Semifinaliste vereer
Daar is nie ’n vervaldatum op talent nie. Plus-vyftigers van regoor die land het vanjaar ingeskryf vir die Andante Plus50-talentkompetisie waar ouer garde hul uitsonderlike talente ten toon kon stel. Uit die talle inskrywings het deelnemers bewys dat talente beslis nie met ouderdom kwyn nie.
Op 10 November word die semifinaliste van dié projek se talente by ’n swierige gala-aand by ATKV-Buffelspoort gevier. Dit is dan ook die PLUS 50-kuierweek.
Dié kompetisie, in samewerking met ATKV-Buffelspoort en die PLUS 50-tydskrif, bied vir senior burgers ’n platform waar hulle hul talente ten toon kan stel.
Enigiemand bo 50 jaar, behalwe professionele en voltydse kunstenaars wat steeds as musikante bedrywig is, mag deelneem.
Volgens Cor Uys, organiseerder van die Andante Plus50-talentkompetisie, was vanjaar se inskrywings van topgehalte.
“Ons was verras deur die inskrywings. Daar is uitsonderlike talent onder ons ouer mense,” sê hy.
Vanjaar is die tweede keer wat dié projek aangebied word.
Cor sê ook dat die kompetisie vanjaar verder uitgebrei is met nuwe kategorieë wat nie net musikante en sangers insluit nie.
“Dit is ’n volwaardige talentkompetisie. Hierdie jaar het ons ’n storievertelling-, drama- en kuns-kategorie gehad,” sê Cor.
Verder was daar drie ander kategorieë, naamlik sang (soliste, duette of groepe van drie tot ses persone), eie komposisie (lirieke en musiek self geskryf en dit moet ’n lied wees wat nie voorheen vrygestel of opgeneem is nie) en instrumenteel (instrumentaliste of orkeste van tot ses persone).
Volgens Cor was die beoordelaars oorbluf deur die talent van senior burgers.
“Daar is deelnemers wat vir dekades as musikante opgetree het en vir die een of ander rede moes uittree. Hulle het hier weer die kans gekry om met hul talente te woeker en gaan voor ’n vol saal mense optree.”
Verlede jaar was Lientjie Sothmann die algehele wenner met haar eie komposisie “Sterrenagkombers”.
Cor sê dat die projek egter nie gaan oor wie wen of verloor nie, maar oor deelname.
“Dis vir ons belangriker dat deelnemers die geleentheid kry om op te tree voor ’n gehoor. Ons wil hê mense se talente moet gevier word.”
Volgens hom is daar onder senior burgers ’n behoefte om gesien en gehoor te word.
“Ons mense wíl hul talente wys en hulle wíl deelneem. Verlede jaar se geleentheid was ’n hoogtepunt gewees. Ek is baie opgewonde oor hierdie jaar s’n en glo dit gaan ’n groot sukses wees,” vertel Cor.