ATKV-AbbAsorg: Beeld-Kinderfonds help om verskil te maak
Die ATKV se sosiaal-maatskaplike verantwoordelikheidsprogram, AbbAsorg, het in Maart weer sy jaarlikse finansiële skenking van die Beeld-Kinderfonds ontvang.
Volgens Elsie Helberg, sedert 2017 aan die stuur van ATKV-AbbAsorg se Promosa-sentrum in Potchefstroom, doen dié instelling daagliks wonderlike werk onder kinders. Daar is vyf AbbAsorgsentrums in Suid-Afrika wat ten doel het om ’n veilige omgewing te skep waar kleuters gehalteopvoeding en -versorging kan ontvang: Promosa, Heidedal (in Bloemfontein), Cloetesville (in Stellenbosch), Pinocchio (in Mosselbaai) en Boskabouters (in Ruiterwag).
“AbbAsorg se Promosa-sentrum het sy deure vir die eerste keer in September 2009 oopgemaak. Dit het aanvanklik as ’n bewaarskool begin, maar het later in ’n voorskoolse sentrum verander omdat die behoefte aan so ’n sentrum baie groot was. Dit was alles die ATKV se inisiatief,” voeg Elsie by.
“Die sentrums is nie almal ewe groot nie. Die Promosa-sentrum sorg tans vir tussen 50 tot 60 kinders en die ouderdomme wissel van twee tot vyf jaar oud. Die kinders word van 07:00 in die oggend ontvang en hulle geniet ’n ontbyt, versnaperinge en middagete. Die kinders ontvang onderrig en ons maak seker dat hulle skoolgereed is vir graad R by die plaaslike laerskool.”
Elsie sê AbbAsorg was in die verlede altyd gratis. “Sedert 2021 vra ons skoolgeld van R200 per maand. Dit werk uit op ongeveer R10 per dag, wat spotgoedkoop is. Ander skole in die omgewing vra meer as R400, en in die dorp selfs nog meer. AbbAsorg keur die kinders op grond van hul gesin se finansiële inkomste. Ons neem kinders in wie se ouers nie kan bekostig om elke maand R400 te betaal nie,” sê sy.
Die Beeld-Kinderfonds is sedert 2016 by AbbAsorg se Promosa-sentrum betrokke. Met die geld waarmee Beeld-Kinderfonds hulle borg, word kos gekoop en die speelterrein opgeknap.
“Met AbbAsorg se normale begroting kan ons byvoorbeeld nie bekostig om vir elke kind jogurt te gee nie. Ons gebruik ’n resep om ongegeurde jogurt en sap of jellie te meng en ’n gereg daarmee te maak. Maar met die bykomende skenking van die Beeld-Kinderfonds koop ons vir elke kind sy eie individuele bakkie jogurt. Ons kan ook ’n groter verskeidenheid vrugte aankoop.
“Die afgelope drie jaar betaal ons ook sekere dienste met die bykomende geld. Ons bied elke week Stimulus Maksima-klasse vir die vyfjariges aan en een keer per maand vir die vierjariges. Die arbeidsterapeut kom werk ook elke week met ons kinders.
“Sonder die bykomende fondse sou ons nooit hierdie dienste kon bekostig nie en uiteraard sou die kinders se ouers ook nooit daarvoor kon betaal nie. Dit stel ons in staat om net die beste vir die kinders te kan bied: lekker etes, onderrig, rekenaargesteunde onderrig en arbeidsterapie – als teen slegs R200 per maand.”
Op die vraag oor hoe die gereelde skenking van die Beeld-Kinderfonds oor die jare heen bygedra het tot die verwesenliking van die kleuters by AbbAsorg se mylpale, sê Elsie: “Kyk, dit is moeilik om presies te bepaal wat tot ’n kind se ontwikkeling bygedra het; om dít te kan sê, moet goeie, deeglike navorsing gedoen word.
“Wat ons wel sonder twyfel weet, is dat ons kinders baie goeie blootstelling ontvang wat vir hulle andersyds nie beskore sou wees nie. Daar is talle kinders wat nie gratis arbeidsterapie ontvang nie, hulle ouers moet daarvoor betaal. Talle kinders ontvang ook nie gratis rekenaargesteunde onderrig nie, maar kinders in ons sorg ontvang dit. Sonder die skenkings van die Beeld-Kinderfonds sou die kinders in ons sorg ook nie hierdie voordele gehad het nie en sou hul ouers ook nie die dienste kon bekostig nie.
“Wanneer ’n kind in ons sorg met iets sukkel, word dit raakgesien en hanteer. Die arbeidsterapeut en Stimulus Maksima-juffrou is gereeld in gesprek met die personeel by AbbAsorg en almal werk saam om die kinders te ontwikkel.
“Ons weet ook vir ’n feit dat ons kinders baie goed by die laerskool aanpas en presteer. Hulle behaal goeie punte en ontvang sertifikate vir goeie akademiese vordering. Dit is alombekend dat kinders wat in AbbAsorg was ’n uitstekende kans staan om hul skoolloopbaan suksesvol te voltooi.
“Alles dra by om die kind in geheel te help groei.”
Diegene wat ’n skenking wil maak of meer inligting verlang, kan Elsie skakel by 083 462 7321 of ’n e-pos stuur na promosa@abbasorg.org.za.
*Niewinsgewende organisasies kan by die Beeld-Kinderfonds aansoek doen, waarna ’n komitee besluit wie vir hulp kwalifiseer.