ATKV-AbbAsorg maak ’n verskil op Mandeladag
Wanneer ’n groep kleuters op Mandeladag hul stemme verhef om vrolike liedjies vir bejaardes te sing, gaan dit oor veel meer as net musiek. Dit gaan oor jong harte wat leer om om te gee, gemeenskappe wat hande vat en klein dade van liefde wat ’n blywende verskil maak.
Dit is presies die gees waarmee die ATKV se vyf AbbAsorgsentrums vanjaar Mandeladag gaan vier. Benewens handgemaakte kombersies wat aan minderbevoorregte bejaardes geskenk word, sal die kleuters ook tyd saam met die inwoners deurbring, liedjies sing en vars vrugte en sop uitdeel – ’n eenvoudige, maar kragtige herinnering dat omgee geen ouderdomsgrense ken nie.
Die projek het by die Celebration-aftreeoord in Randburg begin, waar inwoners kleurvolle gebreide blokkies gemaak het. Daarna het gemeenskappe rondom die AbbAsorgsentrums saamgespan om die blokkies aanmekaar te werk en pragtige kombersies te skep.
Mandeladag, wat jaarliks op 18 Julie – die geboortedag van oudpresident Nelson Mandela – gevier word, herinner Suid-Afrikaners daaraan dat elke mens die vermoë het om ’n verskil te maak. Die wêreldwye inisiatief moedig mense aan om minstens 67 minute van hul tyd af te staan in diens van ander – een minuut vir elke jaar wat Madiba hom vir geregtigheid en die opheffing van mense beywer het.
Vir die ATKV se vyf AbbAsorgsentrums is diensbaarheid egter nie iets wat net een dag van die jaar beoefen word nie. Vanjaar se Mandeladag bied bloot nog ’n geleentheid om die organisasie se kernwaardes van omgee, respek en gemeenskapsontwikkeling op ’n tasbare manier uit te leef.
“Mandeladag is vir AbbAsorg belangrik omdat dit die organisasie se kernwaardes weerspieël. AbbAsorg leef hierdie waardes nie net op Mandeladag uit nie, maar elke dag deur kinders en gesinne in kwesbare gemeenskappe te ondersteun,” sê Martie Suhr, ATKV-AbbAsorg-koördineerder.
ATKV-AbbAsorg fokus op die holistiese ontwikkeling van kleuters tussen drie en vyf jaar wat deur armoede en ander maatskaplike uitdagings geraak word. Benewens gehalteopvoeding ontvang die kinders voedsame maaltye, emosionele ondersteuning en ’n veilige, liefdevolle leeromgewing. Ouers word ook deur ouerskapsvaardighede en begeleiding ondersteun.
Volgens Martie is Mandeladag ook ’n herinnering aan die krag van samewerking. Gemeenskappe, vrywilligers, sakeondernemings en donateurs dra elkeen by deur hul tyd, vaardighede en hulpbronne beskikbaar te stel. Dit wissel van die opknapping van speelgronde en sentrums tot die skenking van kos, klere, boeke, speelgoed en opvoedkundige hulpmiddels.
“Mandeladag wys dat wanneer gemeenskappe saamwerk, selfs klein dade van vriendelikheid ’n groot en blywende verskil in kinders se lewens kan maak,” beklemtoon sy.
Hoewel vanjaar die eerste keer is dat AbbAsorg ’n spesiale Mandeladag-inisiatief op hierdie skaal aanpak, glo Martie dit is die begin van iets besonders.
Vir Martie lê die grootste waarde van Mandeladag dalk juis in die voorbeeld wat dit aan jong kinders stel.
“Ek hoop die kinders van AbbAsorg leer dat elke mens waardevol is en dat daar mense is wat omgee vir hul welstand en toekoms. Wanneer hulle sien hoe gemeenskappe, vrywilligers, sakeondernemings en donateurs hul tyd, energie en hulpbronne gee, kan dit hulle laat ervaar dat hulle geliefd, aanvaar en belangrik is.”
Martie nooi mense wat ’n verskil wil maak om deel van die AbbAsorg-familie te word.
“Ons grootste behoefte is volhoubare ondersteuning wat ons in staat stel om kinders en hul gesinne deur die jaar te versorg en te bemagtig. Mense kan help deur finansiële bydraes te maak, opvoedkundige hulpmiddels, boeke, speelgoed, niebederfbare voedsel of ander noodsaaklike items te skenk. Ons verwelkom ook vrywilligers wat hul tyd en vaardighede wil deel, asook sakeondernemings wat deur borgskappe, skenkings of gemeenskapsprojekte ’n vennootskap met ons wil vorm.”
Sy sluit af: “Elke bydrae – groot of klein – help om ’n kind toegang te gee tot ’n veilige, stimulerende leeromgewing en die geleentheid om sy of haar volle potensiaal te bereik. Wanneer ons in ’n kind belê, belê ons in die toekoms van ons gemeenskap.”
Indien jy ’n skenking aan ATKV-AbbAsorg wil maak, stuur ’n e-pos na woekerfonds@atkv.org.za. Kontak gerus vir Martie Sühr by MartieSuhr@atkv.org.za as jy meer oor hierdie projek te wete wil kom of om betrokke te raak.