ATKV-AbbAsorg Promosa maak skoon


Onwettige vullisstorting is ’n reusekopseer in Promosa, ’n woonbuurt in Potchefstroom. Dit is nie net onooglik nie, maar die stank dryf inwoners tot raserny. ATKV-AbbAsorg Promosa het onlangs besluit om skouer aan die wiel te sit om vullisstorting agter hul sorgsentrum aan te spreek. Elsie Helberg, sentrumhoof, sê: "Hier word enige ding weggegooi – tuinvullis, huishoudelike vullis, maar die ergste ooit, is die dooie honde of katte. ’n Mens wil soms naar word van die vieslike reuk. Die stank is met tye so aaklig dat ons nie die vensters kan oopmaak nie en ons kinders net op die verste deel van die hoek af, kan speel."
Hulle het lank besin oor wat om rakende die onwettige storting te doen. "Sal ons vraghouers probeer kry en parkeer? Sal draad teen die teerpad werk? Niks hiervan sou egter die probleem oplos nie," sê Elsie. Hulle het uiteindelik die rommel verwyder, klippe gegooi om die deel te verfraai en ‘n heining teen die muur opgesit om dit te beskerm. Elsie sê, "Soos vullis bymekaar geskraap en opgelaai word, word daar te na aan die muur gery. Natuurlik word grond ook geskraap en vorm dit dan later ’n gat, wat beteken die muur verswak, want daar is nie meer grond om dit te stut nie."
Sy sê dit is nie net ’n eenmalige skoonmaakprojek nie, maar dat die area nou skoon gehou sal word om só ’n verskil in die kinders en inwoners te lewens te maak. "Vir nou is dit heerlik om ’n mooi omgewing te kan hê en is ons trots op dit wat ons vermag het, ons geniet dit," sê Elsie.
ATKV-AbbAsorg Promosa bestaan al sedert 2008. Dit was ’n inisiatief van die ATKV-dameskring, waar hulle besoeke vir speelgroepies gebring het en, onder andere, kospakkies en opvoedkundige hulpmiddels aan die speelgroepies geskenk het. Rondom 2011 is die besluit geneem om ATKV-AbbAsorg van sy bestaande formaat (speelgroepies) na ’n formele sentrum met ’n volledig ontwikkelde dagprogram (kurrikulum) te verander. Hulle kan 60 kinders tussen die ouderdomme 2 en 5 jaar akkommodeer.
Om volhoubare ondersteuning te bied aan projekte soos hierdie, het ons jou hulp nodig. Kom maak ’n leeftyd se verskil in hierdie kinders se lewens deur vandag nog ’n bydrae aan die ATKV-Woekerfonds te maak. Klik hier vir meer inligting: https://atkv.org.za/ons-storie/woekerfonds/.
Persone wat ’n skenking van meer as R100 maak aan ATKV-AbbAsorg, sal op 1 Maart van die volgende belastingjaar ’n artikel 18A-sertifikaat ontvang.