ATKV-Agent: Eerste akteurs op die rol!
Die ATKV bou voortdurend aan ’n sterk netwerk met produksiehuise, advertensieagentskappe, vervaardigers en mediahuise om die nuutste en beste talent in die land wat die jaar opgelewer het sodoende aan hulle bekend te stel.
Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof van kultuur by die ATKV, beskryf in sy aankondigingsrede tydens die 2024 ATKV-Toneelfinaalprysuitdeling dat ATKV-Agent ’n ding is wat so reguit loop soos die N1 deur die warm Karoo wat jou huis toe neem; ’n aanloopbaan wat jou kan kronkel soos ’n rivier en wat jou laat dans, sing, lees, praat, opskop, en wat op jou tong ’n lêplek kry.
Lemmer, wat ook as beskermheer van ATKV-Agent dien, is oortuig daarvan dat ATKV-Agent alles is wat akteurs wil wees, trouens, sonder dit was hul wêreld ’n heel ander plek, juis omdat die ATKV gesonde vermaak en kultuur laat gebeur.
Die ATKV skep jaarliks geleenthede en platforms waar talente ontdek en ontgin kan word. Produksiehuise van regoor Suid-Afrika woon hierdie geleenthede by om die talent te aanskou. Die bekendstelling van ATKV-Agent skep nou die amptelike platform om die vermaaklikheidsindustrie met nuwe en opwindende talent te voed.
Meer as 3 000 tieners van regoor Suid-Afrika neem jaarliks aan ATKV-Tienertoneel deel en daarom word die ATKV-Agent-akteursrol vanaf 2024 jaarliks tydens die nasionale finaal van ATKV-Tienertoneel saamgestel en aangekondig.
Hierdie uitgesoekte lys jong akteurs word saamgestel deur ’n paneel wat glo dat hierdie akteurs gereed en bemarkbaar is om met selfvertroue ’n verskil in die industrie te maak.
Die paneel word jaarliks deur die ATKV saamgestel en bestaan uit ’n diverse groep mense wat in die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsindustrie sterk staan en sterk werk lewer.
Die paneel word ook getaak om as mentors op te tree vir meer as 180 teaterproduksies en meer as 3 000 deelnemers wat in hierdie produksies toneelspeel tydens 10 landswye streeksfeeste. Die 2024-paneel vir die ATKV-Agent-akteursrol was Jacques Bessenger, Lindsey Cele, Solomon Cupido, Liezl de Kock, André Lötter, Marlo Minnaar en Mari Molefe van Heerden.
Daar is in 2024 vyf jong akteurs op die gesogte ATKV-Agent-akteursrol geplaas.
Elke akteur wat op hierdie rol verskyn, ontvang ’n bemarkbare profiel as prys en die ATKV dien as agent om ’n verskil in die lewens van hierdie jong akteurs teweeg te bring.
Ontmoet die talent wat deur hierdie geakkrediteerde geleentheid die industrie met selfvertroue kan binnegaan. Besoek die ATKV se webwerf vir die vyf bemarkingsprofiele van die ATKV-Agent-akteursrol, soos aangewys in 2024, of klik op die foto’s van die akteurs hieronder.