ATKV-Agent: Nuwe sterre is bekend!
Die ATKV trek jaar ná jaar talent aan soos staal na ’n magneet. Met ’n sterk netwerk wat oor produksiehuise, rolprent- en televisievervaardigers, advertensieagentskappe en die breër vermaaklikheidsbedryf strek, word jong akteurs se werk sigbaar gemaak op platforms waar dit wérklik saak maak. Hierdie magnetiese aantrekkingskrag bereik sy hoogtepunt tydens die ATKV-Toneelfinaal, waar die gesogte ATKV-Agent-akteursrol bekendgemaak word.
Vanjaar sluit vyf nuwe jong akteurs by dié lys aan: Rico Immelman, Lenadri Groenewald, Ronald Theron, Carla Moses en Caitlin Erasmus.
Hul volledige, produksiegereed bemarkingsprofiele is nou beskikbaar vir vervaardigers en regisseurs wat op soek is na vars, rolbuigsame en kamera-intelligente talent.
Die magnetisme van ATKV-Tienertoneel lê in die manier waarop jong akteurs nie net leer speel nie, maar leer dink, voel en lees tussen die lyne. Hierdie verdieping in subteks is volgens JJ van Niekerk, projekorganiseerder van die ATKV-Toneelaanbod, die kern wat jong talent stelgereed maak.
“ATKV-Tienertoneel berei jong akteurs optimaal voor om die dieper kuns van subteks te verstaan. Dit vorm die brug na stelwerk wanneer hulle professionele rolle aanpak. Die teaterproses maak hulle bewus van intensie en detail – elemente wat op stel ’n magnetiese trekkrag vir enige regisseur skep.
“ATKV-Agent voed die industrie meer gekonsentreerd, en ons jong akteurs is ware verkleurmannetjies wat gemaklik in enige rol klim. Die ATKV se toneelaanbod slyp hulle vir hierdie uitdaging,” verduidelik JJ.
Die groeiende sukses van ATKV-Agent word reeds deur die merkwaardige 2024‑uitslae van deelnemers soos Sebastian van Niekerk en Inge Dippenaar bevestig.
Albei akteurs het deur hul ATKV-Agent-profiele suksesvolle oudisies gedoen en rolle losgeslaan in kykNET se nuwe dramareeks, Beter as gister, wat vroeg in 2026 op die kassie verskyn.
Hierdie mylpaal dien as tasbare bewys dat ATKV-Agent ’n magnetiese aanloopbaan is wat talent nie net sigbaar maak nie, maar daadwerklike industriedeure oopmaak.
Die magnetiese mentorpaneel van 2025
Die ATKV stel jaarliks ’n paneel saam wat ’n sterk kreatiewe noord vir jong akteurs bied. Hierdie kenners beoordeel meer as 180 produksies en mentor meer as 3 000 deelnemers tydens tien streeksfeeste.
Die 2025-paneel het bestaan uit dr. Chris Vorster, prof. Marié-Heleen Coetzee, Solomon Cupido, Mari Molefe van Heerden, Marlo Minnaar en Jacques Bessenger.
Hulle identifiseer die akteurs wat nie net talentvol en tegnies vaardig is nie, maar wat reeds die professionele magnetisme het om rolle te dra en kameras se aandag vas te hou.
Die volledige ATKV-Agent-bemarkingsprofiele is nou op die ATKV se webwerf beskikbaar.
Hierdie talent het reeds deur ’n gestruktureerde en geakkrediteerde proses beweeg, en is nou gereed om die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf met nuwe energie, tegniese vaardighede en onmiskenbare magnetisme te betree.
Klik op die foto’s hieronder vir elke akteur se bemarkingsportefeulje