ATKV-Applous 2023 se streeksfeeste skop af
As jy jou hand rondom jou oor skulp, gaan jy dit hoor. Eers hoor jy dalk net ’n dowwe dreuning, soos ’n swerm bye, maar elke dag sal dit duideliker word dat dit die geluid is van letterlik duisende jong skoolstemme en honderde kore wat Suid-Afrika se skool- en ander sale weer gaan oorneem met hulle uitsonderlike liefde vir sang.
In Mei begin die jaarlikse ATKV-Applous-koorkompetisie!
’n Nuwe rekordgetal van 225 kore wat vanjaar ingeskryf het, gaan binnekort vir die streeksfeeste arriveer. Dit is 41 kore meer as in 2022 en die ATKV juig dat dié kompetisie steeds bly groei en sterker word. Meer as 16 000 koorlede word verwag. Terwyl die organiseerders ure werk om die streeksfeeste en beoordelaars bymekaar te kry, is die koorleiers en koorlede verbete besig om te oefen.
ATKV-Applous is die oudste skoolkoorkompetisie in die land en doen alles denkbaar om nie net die mooiste, mees lewendige sang na gehore te bring nie, maar ook om ons taal, Afrikaans, ’n massiewe hupstoot te gee. Daar is piepklein koortjies wat a capella sing en massiewe kore van meer as 140 lede wat instrumente gebruik om saam met hul sang die vloere te laat bewe. Hulle gaan jou laat lag, laat huil, en weer laat glo aan die wonder van koormusiek. Ons weet immers almal musiek is die enigste werklik internasionale taal.
Die streeksfeeste skop op 8 Mei 2023 af in die hart van ons land, Bloemfontein, met Kimberley en Potchefstroom die dag daarna. In Randburg, Middelburg en Nelspruit sing kore op 10, 11 en 12 Mei vir die beoordelaars en gehore. Streeksfeeste vind ook in Polokwane (15 Mei) en Rustenburg (16 Mei) plaas en op 18, 19 en 20 Mei word die Applous-streeksfees in Pretoria aangebied. Van hier af kom die kusbewoners aan die beurt. Op 22 Mei is Oos-Londen en Newcastle aan die sing, die 24ste Empangeni en Ballito, en die 25ste tot die 27ste word daar driftig opgetree in die mooie Wes-Kaap. Uitenhage en Pietermaritzburg kry hulle beurt om ’n klomp kore te onthaal op die 23ste Mei. Op 2 Junie word die streeksfeeste in Namibië voltooi, en dan vind ons uit wie die koorleiers, seuns en dogters is wat deurgaan na die finale rondes.
Wat kan gehore hoop om te hoor tydens die streeksfeeste? Die eerste verrassing is dat meer as 40 kore in die finaal gaan sing. Hierdie kore sing dieselfde werke wat hulle by die finale kompetisies sal aanbied. Dit sluit Afrikaanse gewyde werke, prettige Afrikaanse liedjies en nuut gekomponeerde Afrikaanse liedere in. Vir die ATKV gaan dit oor die uitbou en vasmessel van ons singende taal, veral onder ons jeug. Die kriteria tydens die uitdunne is vertolking, intonasie, die klank van die koor, tegniese aspekte en artistieke geheelindruk. Die twee tot vier beoordelaars by elke streeksfees is soos altyd absolute kundiges in die beoordeling van koormusiek.
Die finale rondes word in die laaste week van Julie in Pretoria gehou – dan vind koorlede en koorleiers ook uit wie die beoordelaars beskou as die beste kore tydens vanjaar se Applous-kompetisie. Natuurlik is hierdie, soos so baie ander sake in Suid-Afrika, die werk van ’n ganse gemeenskap: sonder die skole se liefde vir Afrikaans en sang, die musiekonderwysers en koorleiers, die ouers en vrywilligers, het só ’n kompetisie geen voete om mee te loop nie.
Suid-Afrika, skud julle vere reg, spits julle ore en laat die mooiste koormusiek deur julle vloei – dit kan ons almal net goed doen om weer ’n slag te sien en te hoor hoe lyk en klink dit as mense saamstaan, saamwerk en saamsing. Vir ’n rukkie kan ons heeltemal vergeet van die uitdagings wat ons ervaar en herinner word dat daar min verskynsels so suiwer is soos ’n koor wat hulle mooiste stemme uitpak om ’n boodskap van heling oor te dra.
Laat ons sing met die vreugde wat musiek verdien!