ATKV-Applous 2025: KZN aan die beurt

ATKV-Applous is ’n toonaangewende skoolkoorkompetisie in Suid-Afrika, met ’n indrukwekkende 286 kore wat in 2025 ingeskryf het. Hierdie kore verteenwoordig meer as 20 000 leerders uit hoër- en laerskole.
Die koordirigente en hul koorlede is reeds ywerig besig met stemopwarming en oefensessies. Stemgroepe en solosangers is uitgesoek, en die kore skerp voortdurend hul intonasie, melodie, harmonie, dinamika, tempo, ritme en klankkleur op.
Dit ATKV-Applous-span is besonders opgewonde oor die streeksfeeste wat gedurende Meimaand landswyd plaasvind.
Die span, vergesel van ’n afvaardiging van Suid-Afrika se mees kundige en gesaghebbende koorbeoordelaars, reis gedurende Mei na 18 bestemmings regoor Suid-Afrika en Namibië met die doel om 40 topkore te identifiseer.
Die span en beoordelaars besoek KwaZulu-Natal vanjaar eerstens, waar kore in Empangeni, Pietermaritzburg en Newcastle mekaar die stryd sal aansê.
Vanjaar se eerste streeksfees het op Maandag 5 Mei by die Empangeni High School plaasgevind. Twee hoërskoolkore en vier laerskoolkore het aan hierdie streeksfees deelgeneem.
Op Dinsdag 6 Mei reis die ATKV-Applous-span na die Grace College in Pietermaritzburg. Hier begin die streeksfees omstreeks 15:00, met sewe hoërskoolkore en twee laerskoolkore wat sal meeding.
Laaste aan die beurt is Newcastle op Woensdag 7 Mei. Vier hoërskoolkore en drie laerskoolkore neem deel aan die streeksfees wat by die Hoërskool Ferrum aangebied word. Die program begin om 17:30.
Almal word uitgenooi om die streeksfeeste in hul kontrei by te woon, om inspirerende jong koortalent te ondersteun en die toewyding van ’n nuwe generasie musici te vier.
Na afloop van die landswye streeksfeeste sal die kore wat na die finaal van ATKV-Applous 2025 deurgedring het, bekendgemaak word. Tydens die finaal sal die top skoolkore van Suid-Afrika en Namibië mekaar uitdaag om die titel van die beste skoolkoor te verower.
Die finaal van ATKV-Applous 2025 vind vanaf 30 Julie tot 2 Augustus 2025 in die ZK Matthews-saal by Unisa plaas. Hou gerus die pers dop vir meer inligting oor vanjaar se finaal, wat reeds beloof om ’n spoggeleentheid te wees.
Moenie hierdie onvergeetlike fees van talent, passie, en die vreugde van koormusiek misloop nie!
Kontak gerus vir Corneli Quinn, ATKV-Applous-projekorganiseerder, per e-pos by corneliq@atkv.org.za of telefonies by 011 919 9012, of vir Bessie Keun, ATKV-Applous-organiseerder, by bessie@applous.co.za of telefonies by 072 598 1480 vir enige navrae.