ATKV-Applous 2025: NW en Gauteng reg vir sing

ATKV-Applous is ’n invloedryke skoolkoorkompetisie in Suid-Afrika met ’n merkwaardige 286 kore wat in 2025 vir die kompetisie ingeskryf het. Hierdie kore verteenwoordig meer as 20 000 hoër- en laerskoolleerders.
Die ATKV-Applous-span, vergesel van ’n afvaardiging van Suid-Afrika se mees kundige en gesaghebbende koorbeoordelaars, reis gedurende Mei na 18 bestemmings regoor Suid-Afrika en Namibië met die doel om 40 topkore te identifiseer.
Die span en beoordelaars is tans in die Noordwes en Gauteng, waar kore in Potchefstroom en Randburg mekaar die stryd sal aansê.
Die Potchefstroom-streeksfees het op Woensdag 7 Mei by die Laerskool Mooirivier plaasgevind. Een hoërskoolkoor, vyf laerskoolkore, asook die Noordwes-kinderkoor het aan aan hierdie streeksfees deelgeneem.
Die streeksfees in Randburg vind op Donderdag 8 Mei plaas. Sewe hoërskoolkore en agt laerskoolkore neem aan hierdie streeksfees deel wat by die Hoërskool Randburg aangebied word. Die program begin om 13:30.
Almal word uitgenooi om die streeksfeeste in hul kontrei by te woon, om inspirerende jong koortalent te ondersteun en die toewyding van ’n nuwe generasie musici te vier.
Na afloop van die landswye streeksfeeste sal die kore wat na die finaal van ATKV-Applous 2025 deurgedring het, bekendgemaak word. Tydens die finaal sal die topskoolkore van Suid-Afrika en Namibië mekaar uitdaag om die titel van die beste skoolkoor te verower.
Die finaal van ATKV-Applous 2025 vind vanaf 30 Julie tot 2 Augustus 2025 in die ZK Matthews-saal by Unisa plaas. Hou gerus die pers dop vir meer inligting oor vanjaar se finaal, wat reeds beloof om ’n spoggeleentheid te wees.
Moenie hierdie onvergeetlike fees van talent, passie en die vreugde van koormusiek misloop nie!
Kontak gerus vir Corneli Quinn, ATKV-Applous-projekorganiseerder, per e-pos by corneliq@atkv.org.za of telefonies by 011 919 9012, of vir Bessie Keun, ATKV-Applous-organiseerder, by bessie@applous.co.za of telefonies by 072 598 1480 vir enige navrae.