ATKV-Applous 2026: Inskrywings is oop!
Die ATKV-Applous span is trots om aan te kondig dat inskrywings vir ATKV-Applous 2026 oop is!
Suid-Afrika se oudste en mees gewilde skoolkoorkompetisie vind weer in 2026 plaas, met die kompetisie wat 49 jaar oud word. Alle hoër- en laerskoolkore word hartlik uitgenooi om aan die kompetisie deel te neem en deel te word van hierdie besonderse geleentheid.
’n Skakel na die aanlyn-inskrywingsvorm (hetsy in Afrikaans en/of Engels) is op die ATKV-Applous webwerf gebruiksgereed. Alle inligting wat koorleiers en -organiseerders benodig om in te skryf is te vinde in die ATKV-Applous deelnemersgids (beskikbaar in Afrikaans en Engels). Die deelnemersgidse, asook die voorgeskewe werke vir 2026, is beskikbaar op die ATKV-Applous webwerf.
Die sluitingsdatum vir inskrywings is Woensdag 25 Februarie 2026, en die finale gala-aande sal van 29 Julie tot 1 Augustus 2026 in die Kaapstadse Stadsaal plaasvind.
ATKV-Applous streeksfeeste sal soos oudergewoonte in 2026 weer landswyd aangebied word, met die ATKV-Applous-span en -beoordelaars wat gedurende Mei 2026 na 20 bestemmings regoor Suid-Afrika, asook Namibië, sal reis. Die streeksfeeste begin op 4 Mei 2026 en eindig op 6 Junie 2026.
Die inskrywingsfooi vir hoërskool- en senior laerskoolkore beloop R965 (BTW ingesluit) per koor, per kategorie. Die inskrywingsfooi vir juniorkore, asook volwasse-, gemeenskaps- en streekskore beloop R715 (BTW ingesluit) per koor, per kategorie.
Kontak gerus vir Corneli Quinn, ATKV-Applous-projekorganiseerder, per e-pos by corneliq@atkv.org.za of telefonies by 011 919 9012, of vir Bessie Keun, ATKV-Applous-organiseerder, by bessie@applous.co.za of telefonies by 072 598 1480 vir enige navrae. Vir meer inligting oor ATKV-Applous, besoek gerus die ATKV-Applous-webblad by https://atkv.org.za/neem-deel/kultuurprojekte/applous/.