ATKV-Applous 2026: KZN aan die beurt
ATKV-Applous is ’n toonaangewende skoolkoorkompetisie in Suid-Afrika, met ’n indrukwekkende 314 kore wat in 2026 ingeskryf het. Hierdie kore verteenwoordig meer as 22 000 leerders uit hoër- en laerskole.
Die koordirigente en hul koorlede is reeds ywerig besig met stemopwarming en oefensessies. Stemgroepe en solosangers is uitgesoek, en die kore skerp voortdurend hul intonasie, melodie, harmonie, dinamika, tempo, ritme en klankkleur op.
Dit ATKV-Applous-span is besonders opgewonde oor die streeksfeeste wat gedurende Meimaand landswyd plaasvind.
Die span, vergesel van ’n afvaardiging van Suid-Afrika se mees kundige en gesaghebbende koorbeoordelaars, reis gedurende Mei na 19 bestemmings regoor Suid-Afrika en Namibië met die doel om 40 topkore te identifiseer.
Die span en beoordelaars lê besoek af aan KwaZulu-Natal waar kore in Newcastle, Pietermaritzburg en Empangeni mekaar die stryd sal aansê.
Vanjaar se eerste streeksfees in KZN vind op Woensdag 6 Mei in Newcastle, by Hoërskool Ferrum, plaas en sal omstreeks 18:00 begin. Vier hoërskoolkore en vier laerskoolkore neem aan hierdie streeksfees deel.
Op Donderdag 7 Mei reis die ATKV-Applous-span na Hilton College in Pietermaritzburg. Hier begin die streeksfees omstreeks 12:00, met nege hoërskoolkore en vyf laerskoolkore wat sal meeding.
Laaste aan die beurt is Empangeni op Vrydag 8 Mei. Drie hoërskoolkore en twee laerskoolkore neem deel aan die streeksfees wat by Empangeni High School aangebied word. Die program begin om 12:00
Almal word uitgenooi om die streeksfeeste in hul kontrei by te woon, om inspirerende jong koortalent te ondersteun en die toewyding van ’n nuwe generasie musici te vier.
Na afloop van die landswye streeksfeeste sal die kore wat na die finaal van ATKV-Applous 2026 deurgedring het, bekendgemaak word. Tydens die finaal sal die top skoolkore van Suid-Afrika en Namibië mekaar uitdaag om die titel van die beste skoolkoor te verower.
Die finaal van ATKV-Applous 2026 vind vanaf 29 Julie tot 1 Augustus 2026 in die Kaapstadse Stadsaal plaas. Hou gerus die pers dop vir meer inligting oor vanjaar se finaal, wat reeds beloof om ’n spoggeleentheid te wees.
Moenie hierdie onvergeetlike fees van talent, passie, en die vreugde van koormusiek misloop nie!
Kontak gerus vir Corneli Quinn, ATKV-Applous-projekorganiseerder, per e-pos by corneliq@atkv.org.za of telefonies by 011 919 9012, of vir Bessie Keun, ATKV-Applous-organiseerder, by bessie@applous.co.za of telefonies by 072 598 1480 vir enige navrae.