ATKV-Applous 2026: NW en Gauteng reg vir sing
ATKV-Applous is ’n invloedryke skoolkoorkompetisie in Suid-Afrika met ’n merkwaardige 314 kore wat in 2026 vir die kompetisie ingeskryf het. Hierdie kore verteenwoordig meer as 22 000 hoër- en laerskoolleerders.
Die ATKV-Applous-span, vergesel van ’n afvaardiging van Suid-Afrika se mees kundige en gesaghebbende koorbeoordelaars, reis gedurende Mei na 19 bestemmings regoor Suid-Afrika en Namibië met die doel om 40 topkore te identifiseer.
Die span en beoordelaars lê eersdaags besoek af in die Noordwes en Gauteng, waar kore in Potchefstroom, Randburg en Rustenburg mekaar die stryd sal aansê.
Die Potchefstroom-streeksfees op Maandag 11 Mei vind by die Laerskool Mooirivier plaas en sal omstreeks 17:30 begin. Drie hoërskoolkore, drie laerskoolkore, asook die Noordwes-kinderkoor neem aan hierdie streeksfees deel.
Die streeksfees in Randburg vind op Dinsdag 12 Mei plaas. ’n Indrukwekkende 27 kore neem by die Hoërskool Randburg deel, met agt hoërskoolkore en 19 laerskoolkore wat mekaar die stryd aansê. Die program begin om 9:30.
Volgende aan die beurt is Rustenburg op Woensdag 13 Mei. Drie hoërskoolkore en vier laerskoolkore neem aan die streeksfees deel wat by Bergsig Akademie aangebied word. Die program begin om 14:00.
Almal word uitgenooi om die streeksfeeste in hul kontrei by te woon, om inspirerende jong koortalent te ondersteun en die toewyding van ’n nuwe generasie musici te vier.
Na afloop van die landswye streeksfeeste sal die kore wat na die finaal van ATKV-Applous 2026 deurgedring het, bekendgemaak word. Tydens die finaal sal die topskoolkore van Suid-Afrika en Namibië mekaar uitdaag om die titel van die beste skoolkoor te verower.
Die finaal van ATKV-Applous 2026 vind vanaf 29 Julie tot 1 Augustus 2026 in die Kaapstadse Stadsaal plaas. Hou gerus die pers dop vir meer inligting oor vanjaar se finaal, wat reeds beloof om ’n spoggeleentheid te wees.
Moenie hierdie onvergeetlike fees van talent, passie en die vreugde van koormusiek misloop nie!
Kontak gerus vir Corneli Quinn, ATKV-Applous-projekorganiseerder, per e-pos by corneliq@atkv.org.za of telefonies by 011 919 9012, of vir Bessie Keun, ATKV-Applous-organiseerder, by bessie@applous.co.za of telefonies by 072 598 1480 vir enige navrae.