ATKV-Applous 2026: Oos- en S-Kaap oorgehaal
ATKV-Applous is ’n invloedryke skoolkoorkompetisie in Suid-Afrika met ’n merkwaardige 314 kore wat in 2026 vir die kompetisie ingeskryf het. Hierdie kore verteenwoordig meer as 22 000 hoër- en laerskoolleerders.
Die koordirigente en koorlede is reeds voluit besig met stemopwarming- en oefensessies. Stemgroepe en solosangers is geïdentifiseer en die kore werk onverpoos aan intonasie, melodie en harmonie, dinamika, tempo, ritme en klankkleur.
Dit is daarom glad nie ’n verrassing dat die ATKV-Applous-span besonders opgewonde is vir die landswye streeksfeeste wat in Meimaand op hulle wag nie.
Die span, vergesel van ’n afvaardiging van Suid-Afrika se mees kundige en gesaghebbende koorbeoordelaars, reis gedurende Mei na 19 bestemmings regoor Suid-Afrika en Namibië met die doel om 40 topkore te identifiseer.
Gedurende die derde week van Mei reis die ATKV-Applous-span na die Oos- en Suid-Kaap, waar kore in George, Kariega, en Oos-Londen mekaar die stryd sal aansê.
Die span maak op Maandag 18 Mei ’n draai in George. Twee hoërskoolkore en ses laerskoolkore neem aan die streeksfees deel wat by Glenwood House aangebied word. Die program begin om 15:00.
Op Dinsdag 19 Mei reis die ATKV-Applous-span na die Riebeek College Girls’ High School in Kariega. Hier sal twee uitdunrondes plaasvind, met die eerste wat omstreeks 14:30 begin, en die tweede sessie om 17:30. Elf hoërskoolkore en vier laerskoolkore sal tydens die streeksfees meeding.
Laaste aan die beurt is die Oos-Londense-streeksfees, op Woensdag 20 Mei. Die streeksfees vind by die Clarendon High School plaas en sal omstreeks 17:00 begin. Vier hoërskoolkore en een laerskoolkoor neem aan hierdie streeksfees deel.
Almal is uitgenooi om die streeksfeeste in hul kontrei by te woon, om inspirerende jong koortalent te ondersteun en die toewyding van ’n nuwe generasie musici te vier.
Na afloop van die landswye streeksfeeste sal die kore wat na die finaal van ATKV-Applous 2026 deurgedring het, bekendgemaak word. Tydens die finaal sal die topskoolkore van Suid-Afrika en Namibië mekaar uitdaag om die titel van die beste skoolkoor te verower.
Die finaal van ATKV-Applous 2026 vind vanaf 29 Julie tot 1 Augustus 2026 in die Kaapstadse Stadsaal plaas. Hou gerus die pers dop vir meer inligting oor vanjaar se finaal, wat reeds beloof om ’n spoggeleentheid te wees.
Moenie hierdie onvergeetlike fees van talent, passie, en die vreugde van koormusiek misloop nie!
Kontak gerus vir Corneli Quinn, ATKV-Applous-projekorganiseerder, per e-pos by corneliq@atkv.org.za of telefonies by 011 919 9012, of vir Bessie Keun, ATKV-Applous-organiseerder, by bessie@applous.co.za of telefonies by 072 598 1480 vir enige navrae.