ATKV-Applous 2026: VS en NK slaggereed
ATKV-Applous is dié toonaangewende skoolkoorkompetisie in Suid-Afrika. In 2026 het ’n asembenemende 314 kore vir die kompetisie ingeskryf, wat meer as 22 000 hoër- en laerskoolleerders verteenwoordig.
Die ATKV-Applous-span is besonders opgewonde vir die streeksfeeste wat gedurende Meimaand landswyd plaasvind.
Die span, vergesel van ’n afvaardiging van Suid-Afrika se mees kundige en gesaghebbende koorbeoordelaars, reis gedurende Mei na 19 bestemmings regoor Suid-Afrika en Namibië met die doel om 40 topkore te identifiseer.
In die laaste week van Mei reis die ATKV-Applous span na die Noord-Kaap en Vrystaat, waar kore in Springbok, Upington, Kimberley en Bloemfontein mekaar die stryd sal aansê.
Eerste op die streeksfeeskalender is Springbok, op Maandag 25 Mei. Hier neem twee hoërskoolkore asook ’n laerskoolkoor deel. Die streeksfees word aangebied by Hoërskool Namakwaland en sal omstreeks 17:00 afskop.
Op Dinsdag 26 Mei reis die ATKV-Applous-span na Hoërskool Upington in Upington. Hierdie streeksfees sal omstreeks 15:00 begin, met twee hoërskoolkore en twee laerskoolkore wat deelneem.
Die Kimberley-streeksfees is volgende aan die beurt, op Woensdag 27 Mei, en word by Laerskool Newton aangebied. Vyf laerskoolkore asook ’n koor vanaf die Kimberley Academy of Music neem aan hierdie streekfees, wat omstreeks 17:00 begin, deel.
Die span reis dan na die Vrystaat, waar die Bloemfonteinse-streeksfees op Donderdag 29 Mei by die C&N Sekondêre Meisieskool Oranje aangebied word. Die eerste sessie begin omstreeks 12:00, met twee verdere sessies deur die loop van die middag en aand. Een-en-twintig kore, insluitend 9 hoërskoolkore en 12 laerskoolkore neem aan hierdie streeksfees deel.
Almal word uitgenooi om die streeksfeeste in hul kontrei by te woon, om inspirerende jong koortalent te ondersteun en die toewyding van ’n nuwe generasie musici te vier.
Na afloop van die landswye streeksfeeste sal die kore wat na die finaal van ATKV-Applous 2026 deurgedring het, bekendgemaak word. Tydens die finaal sal die top skoolkore van Suid-Afrika en Namibië mekaar uitdaag om die titel van die beste skoolkoor te verower.
Die finaal van ATKV-Applous 2026 vind vanaf 29 Julie tot 1 Augustus 2026 in die Kaapstadse Stadsaal plaas. Hou gerus die pers dop vir meer inligting oor vanjaar se finaal, wat reeds beloof om ’n spoggeleentheid te wees.
Moenie hierdie onvergeetlike fees van talent, passie en die vreugde van koormusiek misloop nie!
Kontak gerus vir Corneli Quinn, ATKV-Applous-projekorganiseerder, per e-pos by corneliq@atkv.org.za of telefonies by 011 919 9012, of vir Bessie Keun, ATKV-Applous-organiseerder, by bessie@applous.co.za of telefonies by 072 598 1480 vir enige navrae.