ATKV-Applous 2026: Waar jong stemme groei
ATKV-Applous is dié toonaangewende skoolkoorkompetisie in Suid-Afrika. In 2026 het ’n rekordgetal van 314 kore vir hierdie kompetisie ingeskryf, wat byna 23 000 hoër- en laerskoolleerders van regoor Suid-Afrika asook Namibië verteenwoordig.
Die ATKV-Applous-span is vanjaar besonders opgewonde vir die landswye streeksfeeste wat gedurende Meimaand op hulle wag.
Die span, vergesel deur ’n afvaardiging van Suid-Afrika se mees kundige en gesaghebbende koorbeoordelaars, reis gedurende Meimaand na 19 bestemmings met die doel om Suid-Afrika en Namibië se topkore te identifiseer.
Die eerste streeksfeeste vanjaar vind in Mpumalanga plaas, wanneer die ATKV-Applous-span en beoordelaars reeds op 4 Mei na Middelburg en 5 Mei na Mbombela reis.
Daarvandaan reis die span na KwaZulu-Natal. Op 6 Mei is Newcastle aan die beurt, en op die sewende kuier die span in Pietermaritzburg. Op 8 Mei maak die span in Empangeni ’n draai.
Volgende op die ATKV-Applous-streeksfeeskalender is die Noordwes-provinsie en Gauteng, met streeksfeeste in Potchefstroom (11 Mei), Randburg (12 Mei), en Rustenburg (13 Mei).
’n Besonderse streeksfees, wat oor drie dae strek, vind in Pretoria plaas (14-16 Mei). ’n Indrukwekkende 35 hoërskoolkore en 54 laerskoolkore neem deel aan die Pretoriase streeksfees wat aangebied word by die Skuilkrans NG Gemeente.
Die Oos- en Wes-Kaap volg in die daaropvolgende week. Streeksfeeste vind op 18 Mei in George, 19 Mei in Uitenhage en 20 Mei in Oos-Londen plaas. Vanaf 21 tot 23 Mei kuier die ATKV-Applous-span en beoordelaars in Kaapstad. Ook hier word ’n drie-dagse streeksfees beplan, met 21 hoërskoolkore en 31 laerskoolkore wat hier deelneem.
In die laaste week van Mei maak die ATKV-Applous-span draaie in die Noord-Kaap en die Vrystaat. Op 25 Mei is Springbok aan die beurt, waarop Upington op 26 Mei volg. Hierna reis die span na Kimberley (27 Mei) en Bloemfontein (28 Mei). Die laaste streeksfees in Suid-Afrika word op 29 Mei in Polokwane aangebied.
’n Span ATKV-Applous-afgevaardigdes reis voorts op 5 en 6 Mei na Windhoek om ook in Namibië dié land se beste kore te bepaal.
Volgens Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof van kultuur by die ATKV, laat ATKV-Applous se deelnemers hom besef dat wanneer ’n groep mense saamwerk aan ’n gedeelde doelwit, daar wonderlike dinge gebeur.
Lemmer sê voorts: “Dit is uiteindelik waarna die ATKV streef met die ATKV-Applous-streeksfeeste. Eerstens om vir jongmense ’n platform te gee om hul kreatiwiteit uit te leef, maar meer nog om in elkeen van ons deelnemers te belê. Ons sien uit na die emosie op elke gesig, die entoesiasme voor die tyd en bevrediging ná elke vertoning. Sterkte aan al die ATKV-Applous-deelnemers!”
Na afloop van die landswye streeksfeeste sal die kore wat tot die finaal van ATKV-Applous 2026 deurgedring het, bekendgemaak word. Tydens die finaal sal Suid-Afrika en Namibië se beste skoolkore mekaar die stryd aansê om as dié beste skoolkoor gekroon te word.
Die finaal van ATKV-Applous 2026 vind plaas vanaf 29 Julie tot 1 Augustus 2026 by die Kaapstadse Stadsaal. Hou gerus ons sosialemediablaaie dop vir meer inligting oor vanjaar se finaal, wat reeds belowe om ’n spoggeleentheid te wees.
Kontak gerus vir Corneli Quinn, ATKV-Applous-projekorganiseerder, per e-pos by corneliq@atkv.org.za of telefonies by 011 919 9012, of vir Bessie Keun, ATKV-Applous-hulporganiseerder, by bessie@applous.co.za of telefonies by 072 598 1480 vir enige navrae.