ATKV-Applous 2026: WK-streeksfees op pad
ATKV-Applous is dié toonaangewende skoolkoorkompetisie in Suid-Afrika. In 2026 het ’n asembenemende 314 kore vir die kompetisie ingeskryf, wat meer as 22 000 hoër- en laerskoolleerders verteenwoordig.
Met elke noot en akkoord, elke oefening en repetisie, streef die kore met geesdrif en ’n fyn noukeurigheid om hul merkwaardige musikale vermoë ten toon te stel, en elkeen hoop om vanjaar met die ATKV-Applous-louere weg te stap.
Die ATKV-Applous-span, vergesel van ’n afvaardiging van Suid-Afrika se mees kundige en gesaghebbende koorbeoordelaars, reis gedurende Mei na 19 bestemmings regoor Suid-Afrika en Namibië met die doel om 40 topkore te identifiseer.
’n Opwindende streeksfees word vanaf 21 tot 23 Mei in die Wes-Kaap beplan. ’n Indrukwekkende 22 hoërskoolkore en 31 laerskoolkore neem aan dié streeksfees deel.
Hierdie streeksfees word aangebied by die Laerskool Gene Louw, en begin op Donderdag 21 Mei omstreeks 14:45 en op Vrydag 22 Mei omstreeks 15:00. Saterdag 23 Mei se streeksfees begin om 9:00.
Almal is uitgenooi om die streeksfeeste in hul kontrei by te woon, om inspirerende jong koortalent te ondersteun en die toewyding van ’n nuwe generasie musici te vier.
Na afloop van die landswye streeksfeeste sal die kore wat na die finaal van ATKV-Applous 2026 deurgedring het, bekendgemaak word. Tydens die finaal sal die topskoolkore van Suid-Afrika en Namibië mekaar uitdaag om die titel van die beste skoolkoor te verower.
Die finaal van ATKV-Applous 2026 vind vanaf 29 Julie tot 1 Augustus 2026 in die Kaapstadse Stadsaal plaas. Hou gerus die pers dop vir meer inligting oor vanjaar se finaal, wat reeds beloof om ’n spoggeleentheid te wees.
Moenie hierdie onvergeetlike fees van talent, passie en die vreugde van koormusiek misloop nie!
Kontak gerus vir Corneli Quinn, ATKV-Applous-projekorganiseerder, per e-pos by corneliq@atkv.org.za of telefonies by 011 919 9012, of vir Bessie Keun, ATKV-Applous-organiseerder, by bessie@applous.co.za of telefonies by 072 598 1480 vir enige navrae.