ATKV-Applous: Limpopo is slaggereed
Die 314 koordirigente en hul koorlede wat in 2026 vir ATKV-Applous ingeskryf het, is reeds voluit besig met stemopwarming- en oefensessies. Stemgroepe en solosangers is geïdentifiseer en die kore werk onverpoos aan intonasie, melodie en harmonie, dinamika, tempo, ritme en klankkleur.
Dit is daarom glad nie ’n verrassing dat die ATKV-Applous-span besonders opgewonde is vir die landswye streeksfeeste wat in Meimaand op hulle wag nie.
Die span, vergesel van ’n afvaardiging van Suid-Afrika se mees kundige en gesaghebbende koorbeoordelaars, reis gedurende Mei na 19 bestemmings regoor Suid-Afrika en Namibië met die doel om 40 topkore te identifiseer.
Die laaste streeksfees in Suid-Afrika word op Vrydag, 29 Mei in Polokwane, Limpopo aangebied. Hierdie streeksfees vind plaas by Mitchell House waar vyf hoërskoolkore en vyf laerskoolkore sal deelneem.
Almal word uitgenooi om die streeksfeeste in hul kontrei by te woon, om inspirerende jong koortalent te ondersteun en die toewyding van ’n nuwe generasie musici te vier.
Na afloop van die landswye streeksfeeste sal die kore wat na die finaal van ATKV-Applous 2026 deurgedring het, bekendgemaak word. Tydens die finaal sal die topskoolkore van Suid-Afrika en Namibië mekaar uitdaag om die titel van die beste skoolkoor te verower.
Die finaal van ATKV-Applous 2026 vind vanaf 29 Julie tot 1 Augustus 2026 in die Kaapstadse Stadsaal plaas. Hou gerus die pers dop vir meer inligting oor vanjaar se finaal, wat reeds beloof om ’n spoggeleentheid te wees.
Moenie hierdie onvergeetlike fees van talent, passie, en die vreugde van koormusiek misloop nie!
Kontak gerus vir Corneli Quinn, ATKV-Applous-projekorganiseerder, per e-pos by corneliq@atkv.org.za of telefonies by 011 919 9012, of vir Bessie Keun, ATKV-Applous-organiseerder, by bessie@applous.co.za of telefonies by 072 598 1480 vir enige navrae.