ATKV-Applous: Mpumalanga is gereed
Die 314 koordirigente en hul koorlede wat in 2026 vir ATKV-Applous ingeskryf het, is reeds voluit besig met stemopwarming- en oefensessies. Stemgroepe en solosangers is geïdentifiseer en die kore werk onverpoos aan intonasie, melodie en harmonie, dinamika, tempo, ritme en klankkleur.
Dit is daarom glad nie ’n verrassing dat die ATKV-Applous-span besonder opgewonde is oor die landswye streeksfeeste wat in Meimaand op hulle wag nie.
Die span, vergesel van ’n afvaardiging van Suid-Afrika se kundigste en gesaghebbendste koorbeoordelaars, reis gedurende Mei na 19 bestemmings regoor Suid-Afrika en Namibië met die doel om 40 topkore te identifiseer.
Die eerste streeksfeeste vind vanjaar in Mpumalanga plaas, waar kore in Middelburg en Mbombela mekaar die stryd sal aansê.
Op Maandag 4 Mei is die ATKV-Applous-span in Middelburg waar ses laerskool- en ses hoërskoolkore sal deelneem. Hierdie streeksfees word aangebied by Hoërskool Middelburg en sal omstreeks 13:00 afskop.
Die span maak Dinsdag 5 Mei ’n draai in Mbombela. Dié streeksfees, aangebied by die Laerskool Nelspruit, sal om 11:00 begin. Vier laerskoolkore en een hoërskoolkoor is ingeskryf vir hierdie streeksfees.
Almal word uitgenooi om die streeksfeeste in hul kontrei by te woon, om inspirerende jong koortalent te ondersteun en die toewyding van ’n nuwe generasie musici te vier.
Ná afloop van die landswye streeksfeeste sal die kore wat na die finaal van ATKV-Applous 2026 deurgedring het, bekendgemaak word. Tydens die finaal sal die topskoolkore van Suid-Afrika en Namibië mekaar uitdaag om die titel van die beste skoolkoor te verower.
Die finaal van ATKV-Applous 2026 vind vanaf 29 Julie tot 1 Augustus 2026 in die Kaapstadse Stadsaal plaas. Hou gerus die pers dop vir meer inligting oor vanjaar se finaal, wat reeds beloof om ’n spoggeleentheid te wees.
Moenie hierdie onvergeetlike fees van talent, passie, en die vreugde van koormusiek misloop nie!
Kontak gerus vir Corneli Quinn, ATKV-Applous-projekorganiseerder, per e-pos by corneliq@atkv.org.za of telefonies by 011 919 9012, of vir Bessie Keun, ATKV-Applous-organiseerder, by bessie@applous.co.za of telefonies by 072 598 1480 vir enige navrae.