ATKV-Applous se finale ronde is hier
Daar is groot opgewondenheid in die lug oor die finale rondes van die ATKV se Applous-koorkompetisie wat vanaf 28 Julie tot 6 Augustus 2022 plaasvind. Hierdie gewilde skoolkoorkompetisie is die oudste in die land en vier vanjaar sy 45ste bestaansjaar, en het oor die jare aan skoolkore die geleentheid gebied om hul liefde vir Afrikaans en hul vreugde van koorsang uit te leef. In 2020 is die kompetisie vir die eerste keer tot stilstand gedwing weens die streng inperkingsmaatreëls van die COVID-19-pandemie. In 2021 was daar wel die geleentheid om die kompetisie in ’n ander formaat aan te bied en die beoordelaars het van skool tot skool gereis om die deelnemende kore te beoordeel.
Vanjaar is dinge gelukkig weer byna soos in die verlede. Bessie Keun, mede-organiseerder van ATKV-Applous, sê daar is baie vreugde van die ATKV se kant af dat die kore net weer vir ’n slag kan sing: “Alhoewel ons nog nie vanjaar op vol sterkte is ten opsigte van deelname nie, is daar wel 180 kore wat deelneem aan Applous. Met die streeksrondes kon ons sien die standaard is ongelooflik goed en ek haal my hoed af vir die koorleiers en die kinders wat net besluit het om aan te hou sing, ten spyte van baie uitdagings.”
Die ATKV-Applous bestaan uit twee rondes. Die eerste is ’n streeksrondte en daar was vanjaar 20 streeksrondes in Suid-Afrika en Namibië. Hieruit is 47 kore gekies om aan vanjaar se finale ronde deel te neem. Vir die eerste keer vind die finale rondte in beide die noorde en suide van die land plaas. Weens die huidige bandstofpryse, wat beteken dat reiskoste geweldig hoog is, is daar besluit om ’n finaal in die Kaap en ’n finaal in Pretoria te hou. Die kore wat in die streeksrondes deurgedring het, kry die kans om in een van die twee finale mee te ding.
“Tydens die finale rondte in Pretoria, wat vanaf 28 tot 30 Julie duur, sal daar nog nie kategoriewenners aangekondig word nie. Die paneel beoordelaars vir beide die geleenthede is presies dieselfde. Elke koor sal die gemiddelde persentasiepunt van die vyf beoordelaars kry en wel hoor of die koor goud, silwer of brons gewen het, maar sal nog nie weet wie die kategorie gewen het nie. Die kategoriewenners sal eers aan die einde van die Kaapse finale rondte wat vanaf 4 tot 6 Augustus plaasvind, aangekondig word. Die eindrondte in Pretoria sal by die Z.K. Matthews-konsertsaal by Unisa plaasvind en die eindrondte in die Kaap in Kaapstad Stadsaal. Ons is besonder dankbaar dat ons nou beide hierdie lokale tot volle kapasiteit kan vul,” sê Bessie.
Deur die jare het ATKV-Applous soveel vir brugbou en Afrikaanse koormusiek beteken. Een van die kompetisiereëls bepaal dat elke koor een nuutgekomponeerde Afrikaanse lied moet sing. Die ATKV bied ook jaarliks ’n komposisiekompetisie aan vir nuwe koorwerk en die voorgeskrewe koorstuk wat al die kore móét sing, word uit hierdie inskrywings gekies. Sedert die begin van hierdie kompetisie is daar al meer as 600 nuwe koorwerke in Afrikaans gekomponeer. Die kore moet ook elkeen ’n lied in ’n ander Afrika-taal kan sing en op daardie manier dra dit ook by om leerders aan die ander inheemse tale van ons land bloot te stel. Terselfdertyd moet tweede en derdetaalsprekers van Afrikaans weer Afrikaans leer sing.
“Ons sien geweldig baie uit na die finale rondes,” sê Bessie, "dit is baie duidelik dat die kinders en hulle koorleiers gefokus is, en alles ingesit het om in die finaal te kan optree. Van die koorleiers vertel dat sedert die kore weer begin oefen het, is die kinders baie getrou om die oefening by te woon. Met die streeksrondes het ons soveel komplimente gekry oor die kore se uitstaande dissipline."
“Applous is die grootse koorkompetisie in ons land, en een met baie integriteit. Baie van ons land se jeugkore wat in die buiteland uitstyg, het eers hier as Applous-wenners vir hulleself naamgemaak. Ons is besonder dankbaar dat ons weer vanjaar die geleentheid gaan hê om van hierdie topkore in aksie te sien.”
Kaartjies vir die finale rondes is reeds by Computicket beskikbaar. Besoek https://tickets.computicket.com/.