ATKV bedank tak-vrywilligers
Die lede van ’n familie is soos die takke van ’n boom – al groei die takke dalk in uiteenlopende rigtings, bly die wortels van die boom die anker wat eenheid skep en verseker dat die boom ook vir ander ’n koeltetjie en skuiling kan bied. Dit is nie anders sover dit ATKV-takke betref nie – en hierdie takke reik ook uit en omarm gemeenskappe.
Elda Kruger, ATKV-bestuurder: takke meen hierdie voetsoldate van die ATKV is een van dié organisasie se grootste bates en deel van die hartklop daarvan.
“Dit is hierdie individue wat vandat die ATKV in 1930 ontstaan het, deel was van die wortels, bestaansrede, doelstellings en drome. Hierdie ATKV-lede speel nie net ’n uiters belangrike rol binne die ATKV nie, maar speel ook ’n kritiese rol binne gemeenskappe,” sê Elda.
Vandag, 94 jaar later, is die rol van ATKV-takke onontbeerlik binne die organisasie en is dit vir die ATKV ’n voorreg om meer as 300 ATKV-takke te ondersteun in die ongelooflike werk wat hulle in gemeenskappe doen.
Die projekte wat die takke aanbied, word altyd bepaal deur die behoeftes in die direkte gemeenskappe waar hierdie taklede werk en leef, die vaardighede en passie van die vrywillige ATKV-taklede, en die handevat met netwerke en vennootskappe in gemeenskappe.
“Met die oog op die bostaande behoeftes pak die ATKV-takke impakprojekte aan wat lewens transformeer en individue se drome vlerke gee,” verduidelik Elda.
“Hierdie takke maak ’n verskil én lééf die verskil. Dit is individue wat besef, om verandering teweeg te bring begin by jouself, jou gesin, jou buurman, jou gemeenskap. Voor jy weet, is iets wat jy gedink het net ’n klein verskil gaan maak later die rede dat iemand anders ’n beter toekoms het en die rede dat Suid-Afrika ’n land is waarop ons almal trots is,” sê Elda.
ATKV-takke is versprei regoor Suid-Afrika en Namibië en pak gemiddeld 1 200 projekte per jaar aan. Hierdie projekte fokus veral op taal, kunste, sosiaal- maatskaplike werk, omgewingsbewustheid, erfenis, onderwys en opleiding.
“Ons doelwit is om ook in gemeenskappe te werk en te ontwikkel waar daar nie altyd die geleenthede is nie. Ons het natuurlik ook ons landswye temaprojekte wat spesifiek fokus op die aanplant van organiese groentetuine – ons het op hierdie stadium meer as 200 volhoubare tuine aangeplant – en die oplei van leesfasiliteerders in gemeenskappe. Meer as 300 fasiliteerders is reeds opgelei, wat lei tot ’n beter toekoms vir soveel kinders. Ons fokus ook op die neem van kinderteater na gemeenskapsplatforms.
“ATKV-takke dien ook as inklusiewe kultuurtuistes regoor die land. Dit is hier waar enige individue wat ’n liefde deel vir ons taal, ons kultuur en ons land werklik welkom is. Dit is hier waar ons ’n platform skep vir mense om ’n verskil te maak,” sê Elda.
“Dus wil ons op Internasionale Vrywilligersdag elkeen van die 4 341 vrywillige ATKV-taklede bedank vir die besluit wat hulle geneem het om deel te wees van die oplossing van so baie uitdagings.
“Dankie dat hulle besluit het om saam met die ATKV Afrikaans te vier en te bevorder en dat hul besluit het om nie net te praat nie, maar te doen. Ook dat die takke op ’n groot skaal bydra tot die realisering van die ATKV se identiteit as ’n hartsorganisasie wat ’n wesenlike verskil maak,” sê ’n dankbare Elda.
As jy as vrywilliger wil inskakel by ’n ATKV-tak, klik hier om jou naaste tak te vind.