ATKV bou brûe by Time of the Writer-fees
Al 29 jaar lank word daar oor boeke en skrywers gepraat en besin by die Time of the Writer-fees in Durban. Dié breinkind van die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN) se Sentrum vir Kreatiewe Kuns is ’n jaarlikse ontmoetingsplek vir skrywers, digters, letterkundiges en ander boekliefhebbers.
Die fees bied ’n ruimte waar daar vir ses dae lank oor die literatuur gesels en gedebatteer kan word, en natuurlik ook om alles taalverwant te vier. Vanjaar se fees word van 23 tot 28 Maart met die tema “Ink-Stitutions of Power” gehou.
Dr. Ismail Mahomed, direkteur van die Sentrum vir Kreatiewe Kuns, vertel dat die Time of the Writer-fees een van Suid-Afrika se voorste literêre feeste is.
“Ons vier nie net literêre uitnemendheid nie – ons is ook net so passievol daaroor om die loopbane van nuwe skrywers te bevorder en geleenthede te skep vir Suid-Afrikaanse outeurs om aan literêre feeste in die buiteland deel te neem. Ons fees speel ook ’n belangrike rol in die erkenning van Durban se status as ’n Unesco-stad van letterkunde,” vertel hy.
Dr. Ismail vertel voorts dat die fees as ’n Engelstalige literêre fees ontstaan het, maar oor die afgelope vyf jaar skrywers in verskeie Suid-Afrikaanse tale verwelkom het, onder andere Frans, Spaans en Portugees.
“Ons erken steeds dat taal oor kulture heen ’n dinamiese manier is om begrip en verdraagsaamheid tussen gemeenskappe en nasies te bevorder,” vertel hy.
Afrikaans het ook vanjaar weer sy plek by die fees en dr. Ismail sê hoewel hulle al in die verlede Afrikaanse digters, skrywers en kunstenaars gehad het, is hulle vanjaar besonder opgewonde dat die Afrikaanse komponent van die program deur die ATKV geborg word.
Die Afrikaanse program sluit vanjaar bekende name soos Gaireyah Fredericks, Charmaine Africa, Theo Kemp en Jonathan Amid in. Hulle gaan onder meer gesels oor hoe taal deur die Afrikaanse letterkunde ontwikkel het en hoe lesers kultuur deur verhale beleef.
Dr. Ismail noem dat kunstefeeste in Suid-Afrika sedert die Covid-19-pandemie baie uitdagings ervaar as gevolg van ’n gebrek aan strategiese befondsingsondersteuning van die regering.
“Dit is daarom dat vennootskappe tussen kultuurorganisasies noodsaaklik is om die loopbane van skrywers, digters en ander kunstenaars te ondersteun, asook om ’n kunsekonomie te laat groei. Die ATKV is sedert sy stigting in 1930 ’n ikoniese krag in die Suid-Afrikaanse kultuurlandskap en ons is bevoorreg om vanjaar hul ondersteuning te geniet.”
Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof van kultuur by die ATKV, vertel dat die ATKV-Skryfskool se strategiese fokusse herbesoek en uitgebrei is.
“Een van die strategiese fokusse is om Afrikaanse skryfkuns in ’n meertalige konteks te ondersteun en uit te bou. Die Time of the Writer-fees is ’n uitstekende platform om die doelwit te bereik. Dit gee ons ook die geleentheid om die ATKV en Afrikaans onder niemoedertaalsprekers te bemark. Die ATKV sien die fees as ’n geleentheid om op ’n vriendelike en respekterende wyse brûe tussen taalgroepe te bou en sosiale kohesie te bewerkstellig.”
Gerrie vertel dat die ATKV onbeskaamd trots is op ons pragtige taal, wat in die breër Suid-Afrikaanse konteks steeds ’n magtige instrument is.
“Dit is vir ons belangrik om by projekte soos die Time of the Writer-fees betrokke te raak. Die skryfkuns is ’n kragtige manier om Afrikaans in te span as mondstuk vir die taal se sprekers, maar ook as weerspieëling van die tydsgees en om die status quo uit te daag.”
Die feesprogram sluit boekbekendstellings, besprekings, lewendige voorlesings, werkswinkels en ’n aanlyn reeks met literêre kenners in, asook ’n gefokusde program vir die ontwikkeling van kreatiewe skryfwerk. Daar is ook ’n reeks gemeenskapsgeleenthede waar besoekende skrywers onder meer stadsbiblioteke, gemeenskapsentrums en skole besoek en so ’n bydrae kan lewer.
Elke jaar plaas die fees die kollig op ’n skrywer wie se dinamiese stem nuwe leserspublieke bly bereik, die rigting van die literêre landskap in Suid-Afrika help vorm, en wie se oeuvre die krag van Suid-Afrika se voortdurend groeiende literêre ekonomie demonstreer. Die skrywer vanjaar is prof. Njabulo Ndebele.
Die Time of the Writer-fees bied ook vanjaar sy tweede Lewenslange Prestasie-toekenning aan. Die fees vier boonop elke jaar op 21 Maart Unesco se Wêreldpoësiedag en Suid-Afrika se Menseregtedag met ’n spesiale program. Tussen 80 en 100 skrywers word vanjaar by die fees verwag.
Besoek gerus www.tow.ukzn.ac.za vir die feesprogram.