ATKV by die SPAR Kirkwood Wildsfees
Dis Wildsfeestyd in Kirkwood en die ATKV-tak Kirkwood sorg vanjaar vir twee lekkerlag-produksies. In die gees van omgee word die produksies gratis aangebied, maar donasies vir die Vallei Diere Vriende sal waardeer word. Die ATKV stap al etlike jare ’n pad saam met dié dierewelsynsorganisasie.
Willie Rossouw, voorsitter van die ATKV-tak Kirkwood, sê hulle is baie opgewonde oor hierdie jaar se fees: “Ons noem dit ons herstelfees en is dankbaar dat ons hierdie jaar weer voluit kan fees vier,” sê hy.
Die tak bied, in samewerking met ATKV-tak PEAAT, ’n skreeusnaakse tweemankomedie getiteld Die Roadtrip vir volwassenes aan. Die kleinspan kan uitsien na ’n kinderteaterstuk, Dinosourusse kan nie lees nie, wat by die fees bekendgestel word. Die doel is om na die fees met hierdie stuk op reis te gaan en dit by skole aan te bied.
Die Roadtrip was volgens Willie ’n baie suksesvolle produksie by die KKNK 2019. Dit gaan oor twee universiteitsvriende wat na ’n paar jaar besluit om die lang pad saam aan te pak. Hulle besef dat die tyd aangestap het en hul prioriteite na al die jare heelwat verander het.
Die kindersteaterstuk, Dinosourusse kan nie lees nie, is geskryf deur die bekende teatermaker en aktrise, Ilne Fourie. Dit gaan oor Emmie en haar vreemde ouma Bassie, wat ’n reuseprobleem met ʼn dinosourus het. Met kleurvolle karakters en loslitliedjies word oud en jong op ’n verbeeldingsvlug geneem. Die les? Lees is baie belangrik én baie lekker!
St. Colmcille en Hoërskool Kirkwood se ATKV-jeugtakke gaan ’n vrugtestalletjie beman en sappige lemoene, nartjies en suurlemoene verkoop. Vanjaar gaan daar ook gesnyde lemoene wees waaraan feesgangers sommer in die loop kan smul.
Al die ATKV-produksies word by die ondersteunersklub op die feesterrein aangebied.
