ATKV-Crescendo begelei nuwe stemme
Vir die derde Platformsessies-konsert van ATKV-Crescendo-produksies kan die gehoor uitsien na ’n nostalgiese reis saam met Crescendo-legendes wat die musikale weg vir ’n nuwe geslag Afrikaanse stemme wys. Dit vind op 16 Augustus plaas by die Daisy Jones-teater in Stellenbosch. As deel van ATKV-Crescendo se vyftigste bestaansjaar, gaan voormalige Crescendo-wenners, Jak de Priester en Babette Viljoen, die verhoog met drie finaliste van 2024 deel. Saam met Duran Titus (aka Duka), Lester Paulus (aka Crimson Hozay) en Lize-Marié Naudé gaan ons die liedjies en stories onthou wat oor die jare deur televisie en radio tot in ons sitkamers gebring is.
Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV-MSW, vertel dat sy die geleentheid gehad het om die vorige produksie Platformsessies: Di-vers by te woon. “En was dit nou ’n ervaring. Wat ek van die produksie onthou, is hoe die gehoor en ander kunstenaars mekaar aanmoedig en ondersteun. Dit is amper soos ’n gemeenskap, ’n samekoms van verskillende genres, stemme, kunstenaars ...”
Soos vir Sonél, het die interaktiwiteit ook vir Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof: kultuur, opgeval. Hy gee erkenning aan die ankeraanbieders, Gracia Nicholls en Robin Fourie. “Gewoonlik sit ’n gehoor net en kyk. Robin, Gracia, die Crescendo-legendes en 2024-finaliste het interaktiewe reaksie uit die gehoor ontlok deur almal op ’n reis van diverse musiek, filosofiese gesprekke en skerp humor te neem.”
Al is Jak de Priester 22 jaar terug in 2002 as ATKV-Crescendo-wenner aangewys, onthou hy daardie aand soos gister. “Ek kon met Crescendo se finansiële steun my eerste album Sally Williams Nougat opneem – iets wat ek nooit op my eie sou kon doen nie. Ek sien uit daarna om op 16 Augustus die verhoog te deel met aspirerende kunstenaars wat waarskynlik dieselfde opgewonde gevoel gaan hê as wat ek 22 jaar gelede ervaar het.”
2009-wenner, Babette Viljoen, gaan ook saam met pianis en komponis Olga Leonard tydens Platformsessies: Nostalgie te sien wees. “Dit is vir ons ’n ongelooflike voorreg om deel van ATKV-Crescendo se mylpaaljaar te wees. Die rede hoekom Crescendo myns insiens ná vyf dekades steeds relevant is, is omdat hierdie projek daarin slaag om die musikale diversiteit van Afrikaans te vier. Daar is soveel verskillende variëteite, stemme en genres in Afrikaans, maar tog praat ons steeds dieselfde taal.”
Conrad Jamneck, bestuurder van die Daisy Jones-teater, wat die afgelope drie jaar die Platformsessies aanbied, moedig mense aan om kaartjies vir hierdie produksie te koop. “Dit is definitief enig in sy soort. Dit is vir my persoonlik wonderlik om te sien hoe die kunstenaars deur hierdie proses groei van daardie eerste repetisie tot die uiteindelike afsluitingskonsert aan die einde van die jaar. Gaan trek jou kiekies en herinneringe nader en kom wees saam met ons ... nostalgies!”
Kaartjies kos R250. Kontak Ronel Vorster by ronelv@atkv.org.za vir meer inligting.