Skip to main content

Anneli van Rooyen, wenner van die gesogte ATKV-Crescendotoekenning in 1979, word op Vrydag 19 November in Stellenbosch gehuldig in ’n moet-sien-musiekviering getiteld Platformsessies, die Anneli van Rooyen-episode.

Morne van Staden,  ATKV-Crescendo projekorganiseerder,  sê dit was ’n maklike besluit om met die eerste huldeblykvertoning van Platformsessies juis op Van Rooyen fokus. “Sy het deur haar musiek en karakter verseker dat ATKV-Crescendo en handelsmerke soos Platformsessies bestaan, ​​en daardeur gehelp om platforms en geleenthede te skep vir ander kunstenaars. Die kunstenaars wat in die huldigingsvertoning gaan optree, is almal lede van die uitgebreide Crescendo-familie, of dit nou is as finaliste of mentors, of albei.”

Volgens Van Staden is Platformsessies geskep om ’n gelyke platform aan kunstenaars te bied. "Dis ook die perfekte forum om die fenomenale Anneli deur haar musiek vier. Sy is nie net ’n legendariese musikant nie, maar ook ’n wonderlike mens met wie se hart, siel en wese die waardes van die projek resoneer."

Verskeie talentvolle musikante gaan aan die aand se vieringe deelneem, soos Anna Davel, Jodi Jantjies (wat onlangs haar debuutalbum uitgereik het), Hilton Mandela Andries en Melissa van der Spuy. Die vertoning word aangebied deur Robin Fourie en Whaden Johannes, met die ATKV-Crescendo-orkes.  William Jacobs en Melissa van der Spuy is die musikale regisseurs.

Robin Fourie, wat ook die kreatiewe regisseur van die produksie is, sê die gehoor kan uitsien na wat hy  ’n "eenmaal-in-'n-leeftyd-huldeblykkonsert" noem. “Daar sal duette en ‘mashups’ wees en hopelik sal dit ’n nuwe gevoel gee aan die liedjies waarmee ons so bekend is. Dit gaan hartlik, intiem en eg wees, en beslis betowerend.”

Bespreek nou jou plek vir die Platformsessies-konsert op 19 November by The Daisy Jones. Die deure maak 17h00 op, en die vertoning begin 18h30. ’n Kontantkroeg sal beskikbaar wees.  

Kaartjies kos R150, en kan aanlyn via Quicket gekoop word.