ATKV-Crescendo-finaliste sluit jaar eersdaags af
ATKV-Crescendo-finaliste staan gereed om te wys wat hulle in vanjaar se mentorskapprogram bemeester het. Voor die finale konsert, Sit Dit Aan, op 7 Oktober plaasvind, gaan die finaliste vir oulaas nog een week se opleiding in Huis Du Preez in Stellenbosch ondergaan.
Volgens die organiseerders sal die nege finaliste hierna slaggereed wees om die Suid-Afrikaanse musiekindustrie met die nodige kennis en selfvertroue aan te durf.
Hierdie laaste kursus bestaan onder andere uit ʼn Artema Entrepreneurskap in die Kunste-werkswinkel van twee dae aangebied deur Chris de Bruyn van Noordwes-Universiteit, sowel as produksiebestuur, bemarking en identiteitsontwikkeling deur CogNative Design Solution. Clayton Morar van Clayton Morar Media gaan publisiteitsbestuurwenke aan die finaliste gee terwyl Marina Prinsloo van Thelmage die finaliste die fynere kunsies van produksiebestuur en stilering gaan leer.
Whaden Johannes, 2016-finalis en mentor, verduidelik dat werkswinkels soos hierdie mentors en finaliste net nader aan mekaar bring. “Ons het soveel talentvolle mense wat aan hierdie projek werk dat dit vir my ʼn voorreg is om vanjaar as ʼn mentor betrokke te wees. Dit gee my die kans om terug te gee en met ander die kennis en ervaring te deel wat ek nodig gehad het toe ek die industrie die eerste keer betree het,” verduidelik hy.
Die Sit Dit Aan-konsert is ʼn opvolg van die 2022-produksie, waartydens kunstenaars hulself twintig jaar in die toekoms moes plaas en tydens ʼn kamma-televisieproduksie ʼn reüniekonsert moes hou ‒ kompleet met kameras, regisseurs, grimeerkunstenaars en die gehoor wat die rol van ʼn televisiegehoor vertolk.
Gaskunstenaars by vanjaar se konsert sluit in Petronel Baard, Sarah Theron, Whaden Johannes en Gracia Nicholls. “Vanjaar se produksie beloof om niks anders as ‘absoluut uniek’ te wees nie. Met die kombinasie van gesogte skrywers met ʼn gefokusde oortuiging dat die gemeenskap deur musiek ten goede verander kan word, kan die gehoor uitsien na ʼn grensverskuiwende konsert vir ʼn nuwe tipe kunstenaar, ʼn nuwe tipe gemeenskap van kreatiewe denkers en natuurlik ʼn nuwe tipe klank,” aldus kreatiewe regisseur Robin Fourie.
“Die ATKV-Crescendo-span word voortdurend uitgedaag om te innoveer en ʼn lewende erfenis te skep. Vanjaar se slypskool en Sit Dit Aan-konsert gaan geen uitsondering wees nie,” verduidelik Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof van kultuur by die ATKV.
“Die Sit Dit Aan-konsert is meer as net ʼn produksie. ATKV-Crescendo is bekend daarvoor om kunstenaars en gehore uit te daag. In die proses word daar ʼn unieke produksie geskep wat die siel van die finaliste en die gehoor aanraak. Ons besef maar te deeglik watter groot rol ATKV-Crescendo speel in die ontwikkeling en vooruitgang van jongmense, want dit gee betekenis en waarde tot Afrikaanse musiek, verryk mense se lewens en beïnvloed ons denke,” sê Gerrie.
Vanjaar se konsert vind plaas op 7 Oktober 2023 by The Daisy Jones Bar net buite Stellenbosch. Kaartjies kos slegs R100.
KONSERTBESONDERHEDE
Plek: The Daisy Jones Bar, Stellenbosch
Datum: Saterdag 7 Oktober 2023
Tyd: 18:00 vir 19:00
Kaartjies: R100
Besprekings: Kontak Ronel Vorster by RonelV@atkv.org.za of 021 880 1761.