ATKV-Crescendo: Inskrywings is nou oop!
Die inskrywings vir die 2024 ATKV-Crescendo-skrywerskompetisie is amptelik oop, met die sluitingsdatum op 31 Desember 2023 om 00:00. Hierdie kompetisie, wat ’n hoogtepunt is op die kreatiewe kalender van die ATKV, gee vir opkomende liriekskrywers die geleentheid om hul vaardighede te deel tydens die unieke ATKV-Crescendo-mentorprogram.
Die digitale inskrywingsvorm is hier beskikbaar: https://form.jotform.com/cognative/inskrywingsvorm-vir-atkv-crescendo-
Mentorprogram in die Paarl
Die finaliste wat na afloop van die beoordelingsproses in Januarie gekies word, kan uitsien na ’n besondere ervaring tydens die mentorprogram vanaf 27 tot 31 Maart 2024 in die Paarl. Hierdie program, wat gelei word deur kundiges soos Robin-Dean Fourie, Petronel Baard, Sarah Theron, William Jacobs, Whaden Johannes, Helmut Meijer en ander bekendes, fokus op die ontwikkeling van deelnemers se skryf-, komposisie- en vaardigheidstegnieke.
’n Uitdagende program en buitelugkonsert
Die mentorprogram beloof intensiewe daaglikse onderrig vir die 25 finaliste. Hierdie uitdagende program sal afgesluit word met ’n spesiale gebeurtenis, die ATKV-Crescendo UNPLUGGED-buitelugkonsert, wat in 2024 vir die derde keer aangebied sal word. Hierdie konsert is een van die hoogtepunte van die projek se reeks produksies, wat ook Platformsessies en Sit dit aan … insluit.
Slypskool en 50ste verjaardagviering
Ná die mentorprogram sal die toptienfinaliste die voorreg hê om die finale slypskool in Oktober 2024 by te woon. Hierdie slypskool is ’n verdere stap in die deelnemers se groei en ontwikkeling as skrywers. Die 2024-finaliste kan uitsien na die besondere voorreg van optree in ’n reeks produksies wat ATKV-Crescendo se 50ste verjaardag vier.
Wat is die mentorprogram?
’n Magdom bekende sangers soos Randall Wicomb, die geliefde Anneli van Rooyen, Anna Davel, Deon Meiring, Lize Beekman, Karin Hougaard, Jak de Priester, Riana Nel en Petronel Baard het hul tande geslyp in ATKV-Crescendo se kompetisiedae.
Volgens Morné van Staden, die projekorganiseerder van ATKV-Crescendo, het die platform, wat aanvanklik ’n kompetisiegerigte aard gehad het, oor die afgelope dekade in ’n mentorskapprogram ontwikkel.
“Ons het dié projek vanaf 2013 herverpak. Ons moes diversiteit en agtergronde in ag neem. Afrikaans is nie klein nie. Afrikaans is só divers, talent is oral en jy kry dit op alle plekke in ons land. Daarom het ons die idee van kompetisie verruil vir mentorskap en ’n platform geskep waar ons die musikante kon begelei,” sê Morné.
Insae van deelnemers en mentors
Volgens Lucia Poggenpoel van Pretoria, wat vanjaar ’n top-10-deelnemer was, het sy “’n ongelooflike belewenis” gehad.
“Dit het my gehelp om te weet wat ek vorentoe toe wil doen. Somtyds kort kunstenaars rigting. ATKV-Crescendo het hiermee gehelp en gee jou ’n idee van wat jy in die toekoms kan bereik met jou talent. Dit was wonderlik om by die mentors te leer – elkeen het ’n ander kwaliteit waarby jy aanklank vind en só ontdek jy iets in jouself. Die vinnige liedskrywery leer jou dat jy as kunstenaar wél vinnig iets op die planke kan bring en in daardie moeilike oomblikke ontdek jy die meesterstukke,” sê Lucia.
Petronel Baard, ’n musikale mentor, sê mense van alle vlakke in die bedryf kom deel hul kennis met die deelnemers. “As jy jou gaan oopmaak, gaan jy baie daaruit leer. Ná die tyd word die oorwinnings gevier. ATKV-Crescendo se mentorskapprogram is soos ’n familie. Ons het ’n geweldige wye erfenis in Afrikaans en dis vir my geweldig mooi om te sien hoe ATKV-Crescendo die veld vir almal in Afrikaans oopmaak. Die klem is op familie, vriendskap en om die beste te wees met dit wat vir jou gegee is,” sê Petronel.
Vir verdere inligting, kontak asseblief:
Morné van Staden
Projekkoördineerder: ATKV-Crescendo
074 363 3879