ATKV-Crescendo inspireer nuwe talent in die Karoo
Wat kry jy as jy twintig nuuskierige mense, ’n paar sterk kunstenaars, ’n klomp idees en ’n skoolsaal in Victoria-Wes bymekaar sit? Wel, as die ATKV-Crescendo-span betrokke is, kry jy binne ’n paar uur ’n vers, ’n sterk koor, ’n melodie en waarskynlik iemand op ’n verhoog wie se talent nóg verder ontgin kan word.
Op 4 Augustus het ATKV-Crescendo ’n liedjieskryfskool by die Victoria-Wes Gekombineerde Skool aangebied as deel van die voorprogram van die Karoo-toneelfees. Sowat twintig skoolleerders, volwassenes en ander belangstellendes het deelgeneem.
Die span het bestaan uit Selby Williams, sanger; Gracia Louw, digter; Whaden Johannes, akteur, sanger en vervaardiger; William Jacobs, musikale regisseur; Morné Ayeni, projekbestuurder van ATKV-Crescendo; en Marzahn Botha, publisiteitsbestuurder.
Die werkswinkels is in trotse samewerking met die ATKV-tak Victoria-Wes, Hertz en die Karoo-toneelfees aangebied.
Tydens die werkswinkels het die meeste van die jong deelnemers afgeskop deur hul name te noem en hulself sommer as liedjieskrywers voor te stel. Dit het reeds vroeg gewys dat hulle nie net daar was omdat iemand gesê het hulle moet wees nie. Hulle wóú daar wees.
Die dag het begin met inspirasie en toe vinnig beweeg na die praktiese kant van liedjieskryf. Selby Williams het Lirieke 101 en liedstruktuur aangepak en sy lied “Fix the Vibe” gebruik om die gesprek aan die gang te kry. Daarna was dit die deelnemers se beurt om self ’n vers te skryf.
Gracia Louw het metafore en beeldspraak oopgebreek en gewys hoe ’n mens gewone gedagtes op ’n vars manier kan sê. Daarna is ’n koor geskryf en toe bring William Jacobs die melodie. Skielik was die woorde nie meer net sinne nie, maar klank wat begin leef het.
Later moes deelnemers melodieë vir hul eie verse en kore skep, voordat Whaden Johannes ’n belangrike vraag op die tafel gesit het: Vir wie skryf jy? Teen die einde van die dag was daar nie net notas op papier nie. Daar was liedjies wat begin asemhaal het.
Die volgende dag het Crescendo die kreatiewe proses van ’n heel ander kant aangepak met ’n kunste-administrasiewerkswinkel. Hier het die fokus verskuif van “ek het ’n idee” na “hoe maak ek nou iets daarmee?”
Morné Ayeni en Whaden Johannes het met inspirasie begin, waarna Selby Williams oor drome in boksies gesels het. Whaden het programsamestelling aangepak, Morné produksiebestuur, en William Jacobs het gesels oor hoe ’n mens musiek, kunstenaars en vermaak vir ’n produksie of fees kies.
Gracia Louw het die bemarking en sosiale media onder hande geneem. Toe kom die uitdaging: kom ons skep kuns. Deelnemers moes hul eie fees- of produksie-idees begin ontwikkel en uiteindelik wys hoe dit in die praktyk kan werk.
Morné sê dit was juis die praktiese aard van die twee dae wat vir hom uitgestaan het.
“Ek was beïndruk met die bywoning van die werkswinkels. Daar was ’n kombinasie van skoolleerders en volwassenes. Dit het duidelik geblyk dat Victoria-Wes ’n baie ryk en diverse samestelling van inwoners het en dat Afrikaans seëvier.”
Hy sê die deelnemers het met entoesiasme ingespring.
“Ons as span was opgewonde oor die talent vir liedjieskryf wat ons ervaar het. Tydens die kunste-administrasiewerkswinkel het daar weer oorspronklike en weldeurdagte idees vir toekomstige projekte en aanbiedinge tydens die fees na vore gekom.”
Vir sommige was die liedjieskryf die oomblik waar die liggie aangegaan het. Vir ander was dit die beplanning, die strategie en die uitwerk van ’n produksie. En dan was daar natuurlik dié wat alles wou doen.
Die feesbestuur is genooi om die laaste sessie van die kunste-administrasiewerkswinkel by te woon, waar deelnemers hul idees vir toekomstige projekte en aanbiedinge voorgelê het.
Die idees was uiteenlopend, plaaslik en vol kultuur. Ayeni het die feesbestuur aangemoedig om volgende jaar ruimte te skep vir dié leerders en volwassenes om deel te wees van die fees se beplanning.
Vir die twintig belangstellendes het dit die perfekte geleentheid gebied om hulle eie stem te ontwikkel in dit wat hulle skryf. En hoe meer eg ’n liedjie is, hoe makliker vind dit mense wat daarmee kan identifiseer.