ATKV-Crescendo maak internasionaal ’n impak
Dit is nie net ons Suid-Afrikaners wat lekker luister na die talentvolle kunstenaars wat ATKV-Crescendo oor die jare opgelewer het nie – dié vlagskipprojek van die ATKV se internasionale voetspoor is so groot dat selfs die Iere na kunstenaars soos Jodi Jantjies en Whaden Johannes luister.
Onlangse data van die musiekdatabasis, TuneCore, toon aan dat die kunstenaars in die ATKV-Crescendo-stal se liedjies duisende ure se speeltyd in lande soos Ierland, Ysland, Australië, Rusland en selfs Finland geniet.
“Dit wys net weer dat die kwaliteit van ATKV-Crescendo van so ’n hoë gehalte is dat dit aan ’n internasionale standaard voldoen,” sê Morné van Staden, projekorganiseerder.
TuneCore versamel die data van al die stroomplatforms, soos YouTube, Spotify, Deezer en Apple Music.
“Ons was verbaas om te sien hoe baie speeltyd ons kunstenaars in lande kry waar ons nie eers gedink het daar is ’n volgeling nie. Crescendo kan nou gesien word as ’n wêreldburger en dit wys net weereens dat ons kunstenaars nie net bydra tot die Suid-Afrikaanse musiekbedryf nie, maar ook ’n rol in die internasionale bedryf speel.”
Volgens Morné moes die ATKV aan alternatiewe inkomste vir die projek dink en het hulle besluit om kapitaal deur die stroomdienste te genereer.
“Ons moes herbesin oor hoe om geld vir die projek sowel as vir die kunstenaars te genereer. Om van stroomdienste gebruik te maak, was die logiese opsie. Die projek genereer só ’n inkomste en kunstenaars ontvang hul tantième vir hul musiek.”
ATKV-Crescendo het onlangs die finaliste vir 2023 bekendgemaak en die kunstenaars is tans besig met hul mentorskapprogramme, waar gesoute musikante en kunstenaars hulle help om hul talente te slyp.
Die kunstenaars sal op 7 Oktober in ’n bekendstellingskonsert by die Daisy Jones-teater in Stellenbosch te sien wees.
“Daar sal ook drie platformsessies wees, waar die kunstenaars hul talent ten toon gaan stel.”
Morné deel ook dat daar binnekort splinternuwe musiek deur van die vorige finaliste van ATKV-Crescendo uitgereik gaan word.
“Selby Williams en Marsha Bothma is van die kunstenaars wat tans besig is om ’n kort album op te neem en ons hoop om dit ook binnekort aan die wêreld bekend te stel.
“ATKV-Crescendo is volgende jaar 50 jaar oud, en dit wys ook net weereens dat hierdie projek oor vyf dekades nooit stoom verloor het nie, konstant vernuwe het en steeds relevant is.”