ATKV-Crescendo: Mark Pekeur vind sy plek in die kollig
Daar is ’n verskil tussen ’n sanger wat ’n stel liedjies op ’n verhoog sing en ’n kunstenaar wat voor ’n gehoor wys wie hy werklik is. By die bekendstelling van sy debuut-EP, Meer as jy, het die 22-jarige Mark Pekeur op 28 Augustus by die Daisy Jones-teater gewys dat hy besig is om daardie tweede soort kunstenaar te word.
Voor ’n vol gehoor het dié ATKV-Crescendo-opnamekunstenaar ’n vertoning gelewer wat nie bloot om vyf nuwe liedjies gedraai het nie, maar om sy groei as liedjieskrywer, musikant en verhoogkunstenaar.
Met liedjies soos “Wie is ek?”, “Meer as jy”, “Gedra” en die akoestiese “My vingers en die snare”, het Mark gewys dat sy grootste krag in sy eerlikheid lê. Sy musiek kyk na binne en ondersoek identiteit, geloof, onsekerheid en selfontdekking sonder om groter te probeer wees as die jong man wat dit sing.
Wat die vertoning egter besonders gemaak het, was dat Mark nooit alleen op die verhoog hoef te staan nie.
Omdat hy drie jaar lank lid van die Suid-Afrikaanse Jeugkoor was, het ATKV-Crescendo besluit om sy agtergrond in ensemble-sang deel van die bekendstelling te maak. Waar opnamekunstenaars normaalweg ’n gaskunstenaar kry, is ’n volledige musikale wêreld rondom Mark gebou met ’n koor, Crescendo-alumni en mentors.
Die ATKV-Crescendo-koor, bestaande uit soprane Erica Mehl, Janine van Huyssteen en Carmen Enslin, alte Olga Leonard, Grethe van der Merwe en Jacobi de Villiers, en manstemme Selby Williams en Marinus Pawson, het deurgaans hul stemme laat geld.
Gracia Louw, wat die aand as seremoniemeester opgetree het, het die narratief van die vertoning gelei en die gehoor van een hoofstuk in Mark se verhaal na die volgende geneem. As mentor en een van Mark se belangrike ondersteuners binne Crescendo het haar teenwoordigheid ook aan hom sigbare rustigheid op die verhoog gegee.
Mark erken dat hy aanvanklik senuagtig was.
“Op ’n stadium het ek begin voel asof ek hier hoort. Die koor het my ongelooflik gemaklik laat voel. In die repetisies het hulle my telkens verseker dat hulle hier is vir my en dat ek oor niks hoef te bekommer nie.”
Volgens hom het Gracia ook deurgaans gehelp wanneer die senuwees begin knaag het.
Hierdie gevoel van ondersteuning was een van die sterkste elemente van die vertoning. Crescendo het die konsert doelbewus rondom Mark gebou as ’n ruimte waarin hy veilig genoeg kon voel om homself ten volle uit te leef. Mentors en medekunstenaars het as’t ware ’n laer rondom hom getrek sonder om ooit die kollig van hom weg te neem.
Volgens Morné Ayeni, ATKV-Crescendo-projekorganiseerder, was dit ook een van die duidelikste tekens van Mark se groei sedert die mentorskapprogram in 2025.
“Mark is baie talentvol, maar hierdie vertoning het vir ons gewys hoeveel hy gegroei het – nie net in sy musikaliteit nie, maar as kunstenaar en as mens. Die selfvertroue en charisma waarmee hy op die verhoog was en hoe gemaklik hy met homself, sy musiek en die gehoor geraak het, is presies waaroor Crescendo gaan.”
Die emosionele hoogtepunt het egter aan die einde gekom toe Whaden Johannes, akteur, musikant en voormalige Crescendo-finalis, Mark verras het met Koos du Plessis se “Gebed”. Whaden het die lied nie bloot as nog ’n item op die program gesing nie, maar as ’n seëngebed oor Mark se musiekloopbaan.
Mark vertel: “Whaden se ‘Gebed’ wat hy oor my musiekpad gesing het, was ongelooflik spesiaal. Hy en Gracia is my Crescendo-ouers wat my nou op my pad gestuur het. Daarvoor sal ek altyd dankbaar wees.”
Whaden voeg by: “Mark het meer as net ’n show opgesit. Hy het my verbaas en ek is baie trots op hom.”
Dit was ’n gepaste afsluiting vir ’n aand wat oor veel meer as die bekendstelling van ’n EP gegaan het. Dit het die hart van die Crescendo‑familie bevestig: om jong kunstenaars raak te sien, hulle te help groei en hulle met vertroue die musiekpad te laat betree. ’n Pad wat uitdagings mag bring, maar ook die sekerheid dat die mense wat saam met hom gestap het, steeds daar sal wees om hom te dra, te bemoedig en te herinner aan sy oorsprong.