ATKV-Crescendo mik na goud met Platformsessie
ATKV-Crescendo is gereed om Platformsessies GOUD, die laaste episode van 2023 se Platformsessies, aan te bied. Hierdie produksie sal die hoë standaard en kwaliteit van die finaliste, mentors en produksie wat hierdie musiekontwikkelingsprogram skep, saamvat. Dit is ’n hoogtepunt van die jaar se gebeure, wat finaliste ontwikkel het van musikante met sterre in hul oë en drome van ’n musikale loopbaan tot volwaardige kunstenaars, wat gereed is om die verhoog en die kompeterende musiekindustrie te betree. Gedurende die jaar het kenners uit die bedryf as mentors vir die finaliste opgetree en hulle touwys gemaak in onder andere liriek- en melodieontwikkeling, handelsmerkvestiging en publisiteit, besigheidsbeginsels en ’n persoonlike ontwikkelingsprogram om die groentjies in die bedryf te help om ’n kompeterende musiekbedryf te oorleef.
“Ons het die afgelope jaar nie net goud ontdek nie, maar dit ook verfyn. Hierdie is ’n feesviering van die talent wat deur ATKV-Crescendo ontwikkel is,” sê kreatiewe direkteur, Robin-Dean Fourie, oor die konsert wat op 24 November by Daisy Jones in Stellenbosch plaasvind.
“Platformsessies GOUD is die ATKV se manier om dankie te sê aan die media, borge, vennote en seisoenkaartjiehouers wat ons in 2023 ondersteun het.”
“Geen kaartjies gaan vir hierdie geleentheid verkoop word nie omdat ons dit eksklusief vir ons BBP’s hou om te wys hoe belangrik hulle vir ons is. Die BBP’s gaan persoonlike begeleiers hê wat hulle gedurende die aand sal vergesel. Gaste kan ook uitsien na ’n gratis wyn- en whiskey-proegeleentheid vóór die vertoning,” verklap ATKV-Crescendo-projekleier, Morné van Staden.
Platformsessies GOUD beloof om ’n deftige geleentheid te wees. Dit is Fourie se eerste vertoning vir die jaar en hy deel die verhoog met kabaretster en liedjieskrywer Petronel Baard, wat ook hierdie jaar as ’n mentor by die projek betrokke was. Crescendo-finaliste Nicole van der Merwe, Marizaan Uys en Lucia Poggenpoel sal ook gedurende die vertoning te sien wees.
“Ek wil nie te veel verklap nie, maar gaste kan die konsert as ’n blinde afspraak tussen die kunstenaars en die gehoor beskou. Pronk in jou mooiste vere vir die aand en wees gereed om bederf te word,” sê Morné.
ATKV-Crescendo is een van Suid-Afrika se oudste musiekontwikkelingsprogramme wat daarop gemik is om liedjieskrywers toe te rus met die nodige vaardighede om ’n suksesvolle musiekloopbaan te vestig. In 2024 sal dit reeds 50 jaar wees dat die projek van die beste kunstenaars in die land ontdek het. Platformsessies GOUD dien as ’n voorsmakie van wat volgende jaar verwag kan word.
Jarrod Morkel van CogNative Design Solution meen dat ATKV-Crescendo ’n onkonvensionele benadering tot tradisionele musiektalentkompetisies het omdat die program op holistiese ontwikkeling en mentorskap fokus. “ATKV-Crescendo se vermoë om die gaping tussen bestaande en opkomende markte te oorbrug, maak die program relevant binne ’n veranderende sosio-ekonomiese landskap.”
Suid-Afrikaanse liedjieskrywer en vervaardiger Jerome Rex deel Morkel se sentiment. “As kurator van Expression Session in Kuilsrivier het ons ’n intieme, professionele vennootskap met die ATKV. Dit was hierdie jaar vir my opwindend om die proses as toeskouer en ondersteuner te beleef. As iemand met ’n passie vir die kunste is dit vir my ’n riem onder die hart om te sien hoe uitsonderlike talent ontdek en ontwikkel word. Dit was wonderlik om elke finalis se groei deur die afgelope jaar te beleef.”
Seisoenkaartjiehouer Adéle Rex vertel dat die seisoenkaartjie elke sent werd is. “As die ATKV praat van BBP-behandeling, neem hulle dit baie ernstig op. Ons het persoonlike aandag van ons gashere gekry en is dikwels bederf met geskenke en promosie-items. Elke geleentheid het ’n onvergeetlike ervaring opgelewer.”
Suid-Afrikaanse sanger en liedjieskrywer Petronel Baard sê sy is “verskriklik opgewonde” oor Platformsessies GOUD. “Dit is vir my altyd heerlik om saam met musikale regisseur William Jacobs en sy span uitstekende musikante te werk. Boonop is my medekunstenaars uiters talentvol. Die gehoor kan uitsien na ’n inspirerende aand wat vir seker hul monde sal laat oophang.”