ATKV-Crescendo: ’n Sprokies-afskop vir Lizl
“Wat maak jy as Aspoestertjie se skoen jou nie wil pas nie?” wonder ATKV-Crescendo-opnamekunstenaar Lizl Simoes in haar liedjie “Ek wens”. Tog beskryf Lizl haar onlangse bekendstellingskonsert as “’n sprokiesverhaal” en op die koop toe “’n droom wat bewaarheid is”.
Getiteld Kinders van die lig, ook die titel van haar derde enkelsnit ná “Ek wens” en “Muurblom” (dié liedjie is onlangs met ’n Afri-Indie-toekenning bekroon), het die konsert op 23 September by die Centurion-teater plaasgevind. Joshua na die Reën, met wie Lizl aan “Kinders van die lig” saamgewerk het, was op die aand ’n spesiale gaskunstenaar.
Lizl vertel die samestelling van die bekendstellingskonsert was vir haar ’n besonder lekker deel van haar Crescendo-reis tot hier. Die konsert het bestaan uit Lizl se eie werk, deurweef met haar weergawe van ander Afrikaanse grotes se treffers, onder meer liedjies van legendes soos Laurika Rauch en Karin Hougaard.
“Om die verhoog te kon deel met iemand so wonderlik soos Joshua na die Reën… Ek het hom nog altyd bewonder en ek is ’n baie groot aanhanger van sy musiek. Ek is nog steeds opgewonde as ek dink dat ek die verhoog met hom gedeel het.”
Sy huldig die orkes onder leiding van musikale regisseur William Jacobs en bestaande uit musikante Ruan Graaff, Angelo Roman en Justin Arendse, en sê dit was iets besonders om te kon optree voor die mense wat haar al só lank ondersteun.
Lizl vertel dat sy as Crescendo-opnamekunstenaar bemagtig is om haar stempel in die plaaslike musiekbedryf af te druk.
“ATKV-Crescendo is vir my van onskatbare waarde. Hulle doen baie goeie werk om in Afrikaans in te ploeg en te belê in die toekoms van Afrikaanse musiek.”
Morné Ayeni, projekorganiseerder van ATKV-Crescendo, sê die opleiding wat Crescendo tydens die mentorprogram aan deelnemers bied, is juis daarop toegespits om hulle toe te rus met die vaardighede wat nodig is om ’n volhoubare musikale loopbaan te bou.
“In die proses help ons jou om jou identiteit te ontdek sodat jy nie probeer om iemand anders te wees nie, soos in Lizl se geval, waar sy haar eie unieke identiteit ontdek het, omhels het, en dit dan gebruik om haar handelsmerk te skep.”
Morné benadruk dat kunstenaars wat deel word van die mentorprogram éérs bemagtig word om hul eie oorspronklike werk te skep en stem te vind voordat hulle met daardie werk ’n loopbaan kan bou. Tydens die mentorprogram ontvang deelnemers onder meer opleiding in liedjieskryf, handelsmerkbestuur en begrotingsbestuur tesame met ’n magdom ander vaardighede wat hulle vir die musiekbedryf voorberei.
“Hulle het vir my dinge van die industrie geleer waarvan ek nie eens geweet het nie,” sê Lizl. “Ons is bekend met die kreatiewe kant, die skryf- en musiek-maak-kant, maar nie noodwendig met die besigheidsaspek van dit alles nie. Hulle het ons so mooi met alles gehelp.”
Sy vertel haar opnamereis vanjaar was ’n praktiese toepassing van al daardie dinge.
“Hulle was altyd daar. Ek het baie vrae – ek vra altyd baie vrae – en hulle was daar om elke vraag mooi te beantwoord. Hulle is ’n span wat eintlik beter saamwerk as ’n familie. Dis ’n ongelooflike groep mense en dis ’n groot eer om hierdie reis saam met hulle te kan aanpak. Ek kan hulle nie meer aanbeveel as wat ek reeds doen nie.”
As opnamekunstenaar is Lizl deel van ’n uitgelese groep van die mentorprogram se deelnemers wat gekies word om ’n finale slypskool by te woon. Dit volg nadat hulle oor ses maande kon bewys hulle kan die vaardighede wat hulle tydens die ATKV-Crescendo-mentorskapprogram geleer het, suksesvol in hul jong loopbane toepas. Die opname van liedjies, vervaardiging van ’n musiekvideo en handelsmerkverfyning vorm alles deel van hierdie laaste stap in die proses, wat op die spits gedryf word met ’n bekendstellingskonsert soos Lizl s’n.
“Dit is ’n droom wat bewaarheid is en ek is só dankbaar. Dit is definitief ’n hoogtepunt in my loopbaan tot dusver.”
Morné meen geleenthede soos hierdie onderstreep die belangrikheid van ’n mentorprogram soos Crescendo.
“Wanneer ek na Lizl kyk, en ook na die ander kunstenaars wat ons al vanjaar bekendgestel het, kan ek nie anders as om nog verder te droom oor Crescendo nie en hoe om die prosesse binne Crescendo nog meer te verfyn, op te skerp en meer intensief te maak om te verseker ons lewer nog meer Lizls van die wêreld op.
“Só dien hierdie projek ook die diversifisering van Afrikaanse musiek sodat ons verseker daar is meer vir mense om na te luister en dat ons gehore bederf en opvoed oor hoe wyd die klanke van Afrikaans is. Daar is iets in Afrikaans vir almal.”