ATKV-Crescendo-produksie vier die krag van vrouwees
Nee, nie femme fatal nie. Dis Femme Fantasties wat op almal se lippe gaan wees nadat hulle hierdie musikale kragtoer deur van Suid-Afrika se beste vroulike kunstenaars gesien het. Tydens hierdie produksie deel die Sama-genomineerde en voormalige ATKV-Crescendo-deelnemer, Jodi Jantjes, die verhoog met groot name soos Vicky Sampson, Lady Day Big Band, Anna Davel, Tracey-Lee Olivier, Zimbini en die UWC Creative Arts-koor.
ATKV-Crescendo, wat as Suid-Afrika se mees vooraanstaande talentontwikkelingsprogram vir liedjieskrywers beskou word, het Anna Davel se talent ingespan om die regisseur van hierdie luisterryke produksie te wees. Sy tree ook as mentor vir die ontwikkelingsprogram op.
“Die goue draad wat deur Suid-Afrika se ingewikkelde geskiedenis loop, is die bydrae wat vroue van alle rasse, gelowe en kulture in Suid-Afrika gelewer het om gesinne bymekaar te hou,” verduidelik Anna. “Deur baie moeilike omstandighede het ma’s, oumas en vroue die kinders van ons land die stabiliteit en liefde gee wat hulle verdien. Hierdie vyf wonderlike divas verteenwoordig die multikulturele nasie wat Suid-Afrika vandag is. Tydens die vertoning gaan die kunstenaars in Afrikaans, Engels, Kaapse Afrikaans en die ander inheemse tale van Suid-Afrika sing.”
Op 1 Augustus skop Femme Fantasties in die Artscape-teater in Kaapstad se tradisionele Vrouemaand-vierings af. Na twee jaar se inperking kan die hoof uitvoerende beampte van Artscape-teater, Marlene le Roux, nie haar opgewondenheid wegsteek nie: “Artscape het altyd ’n fees tydens Augustus gehad om die krag van vroue en die vordering wat gemaak is ten opsigte van gelyke regte vir mans en vroue te vier. Uiteindelik kan ons dit weer doen. Ek kan nie wag om hierdie vyf fenomenale vroue in aksie te sien nie.”
Jodi Jantjes, ’n 21-jarige boorling van Mitchells Plein naby Kaapstad, erken dat sy baie op haar senuwees is om byvoorbeeld saam met ʼn musikale ikoon, Vicky Sampson, op te tree. “Behalwe dat dit vir my ’n ongelooflike groot voorreg is om deel te wees van ’n produksie wat vroue in Suid-Afrika verteenwoordig, wil ek die heel graagste vir daardie dogtertjie wat agter geslote deure in haar kamer dans en sing die hoop gee dat sy ook eendag op ’n verhoog kan staan om haar stempel in die wêreld af te druk.”
Met hierdie konsert kry die publiek kans om Jodi te sien as die internasionale kunstenaar wat sy is, glo Morné van Staden, projekleier van ATKV-Crescendo. “Die kaliber kunstenaars saam met wie Jodi optree, komplementeer die standaard van haar musiek wat met die beste in die wêreld kan kompeteer. “Een keer ’n fan, altyd ’n fan.”
Kaartjies vir hierdie musikale ervaring kan by enige Shoprite-winkel gekoop word. Dit is ook aanlyn by www.computicket.com beskikbaar. Pryse wissel van R150 tot R280 elk.