ATKV-Crescendo sprei vlerke in 50ste jaar
ATKV-Crescendo, een van Suid-Afrika se bekendste musiekprojekte, het pas aangekondig dat die huidige mentorskapformaat ook na Namibië uitgebrei gaan word.
Vir projekorganiseerder Morné van Staden is dit heeltemal gepas dat hierdie verwikkeling in die vyftigste bestaansjaar van ATKV-Crescendo plaasvind.
“Die uitbreiding oor landsgrense heen ondersteun die ATKV se missie om die geografiese voetspoor van die organisasie uit te brei en sodoende die Afrikaanse musiekindustrie van nuwe stemme, nuwe genres en nuwe musiek te voorsien,” sê Morné.
Alhoewel daar al wenners uit Namibië was, soos Riana Nel, is dit die eerste keer dat ATKV-Crescendo in die huidige formaat na Namibië gebring word. “Die formaat van die afgelope paar jaar,” verduidelik Morné, “het die vorm van ’n mentorskapprogram aangeneem. Daar is nie net meer een wenner nie, maar finaliste word uit talle inskrywings – in persoon of aanlyn – aangewys om ’n weeklange mentorskapprogram, aangebied deur kenners uit verskillende dele van die musiekbedryf, by te woon. Uit hierdie finaliste word daar tien deelnemers aangewys wat deur ATKV-Crescendo-produksies die geleentheid kry om aan produksies deel te neem, liedjies op te neem en musiekvideo’s te vervaardig.”
“Alhoewel potensiële finaliste hul inskrywings aanlyn instuur, is daar diegene wat verkies om oudisies eerder in persoon te doen. Op die oomblik is daar vier talentsoekers in Suid-Afrika wat oudisies in verskillende dele van die land hou, maar tot dusver het ons nog nie ’n talentsoeker in Namibië aangestel nie,” verduidelik Morné.
Die eer het uiteindelik Ixa, ’n Afrikaanse rymkletser, liedjieskrywer, musiekvervaardiger en platejoggie van Walvisbaai, te beurt geval. “Ixa is die ideale kandidaat vir hierdie belangrike pos,” vertel Morné. “Nie net het hy reeds ’n groot aanhang in Namibië nie, maar hy het ook al ’n buiging in onder andere Nederland gemaak. In 2018 was hy selfs deel van ATKV-Crescendo se produksie Te hard, wat landswyd getoer het. Hy het ook al saam met Crescendo-finaliste Whaden Johannes en Jodi Jantjies opgetree.”
Ixa is baie opgewonde oor sy betrokkenheid by Crescendo. “Dit is vir my ’n geweldige voorreg om die talentsoeker van Namibië te wees, veral omdat die projek dieselfde waardes as ek nastreef, naamlik om mense te inspireer, in hulself te laat glo en te mentor. Daar is nie so iets in Namibië nie. ATKV-Crescendo is die perfekte platform vir kunstenaars om hulle musiek in Suid-Afrika en Namibië bekend te stel. Jy kan nie verkeerd gaan deur ten minste te probeer nie.”
Voornemende Namibiese deelnemers wat verkies om ’n persoonlike oudisie te doen, kan Ixa by ixaopimaixa@gmail.com kontak. Vir digitale inskrywings en meer inligting oor die projek, besoek www.crescendo.org.za.