ATKV-Crescendo vat hande vir oudisies

Een van Suid-Afrika se oudste en bekendste musiekontwikkelingsprogramme, ATKV-Crescendo, gaan saam met Expression Session werk om ons land se onontdekte musikale talent te ontgin en te ontwikkel.
Die finaliste wat tydens hierdie sessies gekies word, sal volgende jaar ATKV-Crescendo se mentorskapprogram bywoon in die hoop om by voormalige ATKV-Crescendo-legendes aan te sluit.
Expression Session is in 2008 deur Robin-Dean Fourie in Worcester gestig. Tydens hierdie maandelikse geleenthede kry kunstenaars die kans om hul talente ten toon te stel. Sedertdien het die konsep na Kuilsrivier, Oudtshoorn en George uitgebrei.
“Daar is geen beperkings op hoe ’n kunstenaar hom- of haarself mag uitdruk nie,” verduidelik Jerome Rex, wat aan die hoof van die Expression Session in Kuilsrivier staan. “Ons het meestal sangers, rappers, akteurs en dansers wat optree, maar entrepreneurs en binnenshuise versierders het ook al hulle passie en vernuf met gehore gedeel. Die pryswennerdigter, Siphokazi Jonas, sanger en vermaaklikheidster, Keanu Harper, en rap-sensasie, King Smasher is maar net ’n paar kunstenaars wat al by Expression Session opgetree het.”
“Ons is baie opgewonde om weer saam met ATKV-Crescendo te werk, wat ons passie vir kunstenaarsontwikkeling deel,” verduidelik Rex. “As deel van hierdie vennootskap het Expression Session nou geleenthede geskep waar deelnemers voor ’n gehoor hulle oudisies kan aflê.”
Die ATKV-Crescendo se Expression Session-oudisie vind op 24 November in Worcester plaas, en op 27 November in Kuilsrivier.
Om vir die Worcester-geleentheid te registreer, kontak Whaden Johannes by crescendo02@atkv.org.za, of Jerome Rex by expressionentry@gmail.com vir die Kuilsrivier-oudisie. Alle registrasies vir oudisies by Expression Session moet asseblief sewe dae voor die geleentheid gestuur word.
Belangstellendes kan ook digitaal inskryf om vir die mentorskapprogram in ag geneem te word. Inskrywingsvorms is hier beskikbaar. E-pos die voltooide inskrywingsvorm, ’n kopie van die lirieke, ’n MP3 of stemnota van jou liedjie en bewys van betaling van die R100-inskrywingsfooi aan crescendo01@atkv.org.za. Inskrywings sluit op 31 Januarie 2023. Die finaliste sal op 13 Februarie 2023 aangekondig word.