ATKV-DigiProjekte-aanbod vanjaar uitgebrei
Die aanbod van die ATKV se DigiProjekte word vanjaar uitgebrei om gesegdes, gedigte en voordrag in te sluit.
Volgens Melanie Marais, ATKV-projekorganiseerder, het die sukses van ATKV-DigiProjekte in die afgelope klompie jare vir haar en haar kollegas oortuig om addisionele kategorieë by te voeg.
Die nuwe projekte sal die bestaande kompetisies (ATKV-DigiPraat-, -DigiKuns, -DigiSkryf, -DigiSpel, -DigiToneel en -DigiSpanpraat) aanvul en bied ’n geleentheid vir belangstellendes van alle ouderdomme – van laerskoolkinders tot bejaardes – om deel te neem.
“Die wêreld het destyds tot stilstand gekom nadat die Covid-19-pandemie soos ’n veldbrand begin versprei het,” sê Melanie.
“Dit was ’n verskriklike traumatiese tydperk, dus het die ATKV-projektespan, wat bestaan uit 11 lede, koppe bymekaargesit om iets positiefs na vore te bring.
“Ons het ten doel gehad om lekker opwindende en innoverende aanlyn projekte te skep wat individue en hul kreatiewe vaardighede op ’n kreatiewe manier sou stimuleer. Daarom het ons na die bestaande ATKV-projekte gekyk en aanlyn projekte daaruit geskep.”
Melanie verduidelik die doelwitte en voordele van ATKV-DigiProjekte.
“Hierdie ATKV-DigiProjekte moet ’n individu se vaardigheid in die gebruik van die internet, podsendings, videokonferensies, video’s en spraakherkenningsagteware verbeter,” sê sy.
“Ander voordele van die kompetisies is dat dit ook deelnemers se navorsingsvaardighede moet verbeter, selfvertroue moet bou, kritiese denkvaardighede moet versterk, deduktiewe redenering moet beoefen, mondelinge kommunikasievaardighede moet versterk en netwerke moet uitbrei.”
Melanie sê wat sy baie opwindend vind, is die feit dat ATKV-DigiProjekte geen perke het nie en aan plaaslike sowel as internasionale belangstellendes beskikbaar is.
“Die Covid-19-pandemie het vir ’n ewigheid voortgesloer en ’n mens kon net soveel dinge by die huis doen. Die ATKV het ATKV-DigiProjekte juis geskep om die kinders uit te daag, maar dit het gou ook die ouers uitgedaag,” sê sy.
“Dit was die geboorte van ATKV-DigiPraat, -DigiKuns, -DigiSkryf, -DigiSpel en -DigiSpanpraat. Ons kan met trots sê dat hierdie projekte suksesvol bedryf is en steeds groei.
“Met meer opwinding en uitbreiding word drie nuwe ATKV-DigiProjekte in 2024 verwelkom, naamlik ATKV-DigiGesegdes, ATKV-DigiVoordrag en ATKV-DigiGedigte.
“Daar is letterlik iets vir almal om aan deel te neem danksy ATKV-DigiProjekte se verskillende kategorieë in die afdelings vir Afrikaans Huistaal en Afrikaans Addisionele Taal.”
Melanie sê die ATKV-DigiProjekte word in video-, speletjie- en in PDF-formaat aangebied.
“Boonop hoef jy nie ver te reis om aan hierdie digitale kompetisies deel te neem nie. Jy benodig eenvoudig net toegang tot ’n rekenaar, tablet of slimfoon en ’n internetverbinding.”
Melanie sê alle inskrywings word deur kundiges in die onderskeie vakgebiede beoordeel.
“Mense kan ATKV-DigiProjekte as ’n goeie geleentheid beskou om hul kreatiwiteit uit te leef deur deel te neem en sodoende uitdrukking te gee aan hul idees, gedagtes en emosies,” sê sy.
“Ons ontvang inskrywings van werklike topgehalte en die standard styg elke jaar.”
Hier volg meer inligting oor die drie nuwe ATKV-DigiProjekte:
ATKV-DigiGesegdes:
Is jy ’n voorslag met sêgoed? Is jy gekonfyt in Afrikaanse gesegdes, idiome, spreekwoorde en vergelykings? ATKV-DigiGesegdes gee jou die geleentheid om jou kennis van Afrikaans se beste sêgoed in ’n prettige speletjiesformaat ten toon te stel.
Hierdie nuwe projek is oop vir graad 4’s tot volwassenes en selfs bontpraters is welkom. Maak jou leeslitte los en laat jou idioomspiere bult met ATKV-DigiGesegdes. Klik hier om in te skryf.
ATKV-DigiVoordrag:
Is jy passievol oor gedigte en wou jy nog altyd groot skares met jou helder voordragstem beïndruk?
Wat is dan mooier as Afrikaanse gedigte? Die ATKV wil vir jou die geleentheid bied om hierdie deel van ons taalerfenis te vier deur ATKV-DigiVoordrag.
ATKV-DigiVoordrag bied jou die platform en podium om van die prettigste en pragtigste Afrikaanse poësie met ’n waarderende gehoor te deel.
Dit maak nie saak hoe jou stem klink nie en jy hoef ook nie pennetjieregop met stywe klere op ’n verhoog te staan nie. Kies net jou mooiste Afrikaanse gedig wat jy lekker met gemak en selfvertroue kan voordra. Laat die mense skaterlag met ’n prettige, komiese gedig of laat hulle ’n traan pink met iets roerend.
Klim op die ATKV se digitale wêreldverhoog. Kry eenvoudig jou slimfoon, rekenaar of tablet en skep jou eie ruimte met ’n goeie internetverbinding tuis of elders op die aardbol. Nou kan jy die mense wêreldwyd meevoer deur jou Afrikaanse gedig meesleurend voor te dra, op te neem en die video vir die ATKV te stuur.
Klik hier om in te skryf.
ATKV-DigiGedigte:
Wag daar diep in jou binneste ’n gedig wat jy net in jou geliefde moedertaal kan uitdruk?
Woordkinders, gee jou poësie-pennevrugte vlerke deur in te skryf vir hierdie digitale kompetisie.
Waar op die aardbol jy ook al jou gedigte skryf, iewers sal jou verse ’n Afrikaanse leser se hart warmer laat klop.
Of jy hou van paarrym, omarmde rym of eerder met die vrye vers woeker, ATKV-DigiGedigte en die hele wêreld wag op jou digterlike vernuf.
Klik hier om in te skryf.
Belangstellendes wat meer inligting verlang, kan Melanie kontak by 011 919 9015 of melaniem@atkv.org.za.
Klik hier vir meer inligting oor al die ATKV-DigiProjekte.