ATKV-DigiSkryf: Opskud met jou inskrywing
Kom skryf jóú storie in jou hartstaal! Met hierdie woorde nooi die ATKV enigeen uit om deel te neem aan vanjaar se ATKV-DigiSkryfkompetisie. Hierdie kompetisie is spesiaal vir die kreatiewes wat hou van skryf. ATKV-DigiSkryf is in 2020 saam met die ATKV se ander digitale kompetisies geloods en het sedertdien soveel belangstelling uitgelok dat daar besluit is om daarmee voort te gaan.
Melanie Marais, die projekorganiseerder van hierdie kompetisie, sê ATKV-DigiSkryf is oop vir enigeen wat daarvan hou om woorde op papier neer te sit en dat die kompetisie ’n wonderlike geleentheid is om hierdie talent te slyp en ten toon te stel. “Daar is heerlike boekpryse op die spel in elke kategorie, tesame met ’n ATKV-deelnamesertifikaat,” sê sy. “Wat ATKV-DigiSkryf so lekker maak, is dat individue self kan inskryf. Die inskrywings geskied nie deur skole of ander instansies nie en enigeen wat graag met een van die drie temas wil woeker, is welkom om in te skryf.”
Daar is sewe kategorieë in hierdie kompetisie: Graad 4 en 5, graad 6 en 7, graad 8 en 9, graad 10 tot 12, studente, volwassenes (25 tot 59 jaar) en senior burgers (60 jaar en ouer). Daar word in elke kategorie ’n kategoriewenner aangewys, wat ’n boekprys en ’n spesiale sertifikaat ontvang.
Die drie temas vir vanjaar se inskrywings is:
- Spore
- Die lekkerste lekker
- My grootste held
Die vereiste lengte van die skryfstukke wissel van 120 tot 160 woorde vir die graad 4’s en graad 5’s, tot 350 tot 550 woorde vir studente, volwassenes en senior burgers. Die vereiste lengtes vir elke kategorie, asook al die ander reëls en riglyne, word in die deelnemersgids vervat, wat gekry kan word by https://indd.adobe.com/view/32c63aa7-9a33-4bb4-a655-1c0b1ad58084.
Volgens Melanie is daar geen beperking op die aantal inskrywings nie, maar die inskrywingsgeld beloop R120 per skryfstuk. Alle inskrywings sluit op 31 Mei 2023, maar voor of op 26 Mei kan jy teen die verminderde bedrag van R100 per skryfstuk inskryf.
Elke deelnemer ontvang ’n deelnamesertifikaat, waarop die simbool wat behaal is, aangedui word. ’n Punt word uit 100 toegeken na aanleiding van die konsep (50 punte) en tegniese aspekte (50 punte).
ATKV-DigiSkryf is nie slegs vir ATKV-lede nie en enigeen kan inskryf. Om vir hierdie kompetisie in te skryf, moet jy die ATKV se ledeplatform besoek by https://lede.atkv.org.za/. Daar kan jy dan die digitale inskrywingsvorm voltooi. Nie-lede van die ATKV moet op dieselfde platform inskryf deur ’n profiel te skep. Die profiel sal jou nie outomaties ’n ATKV-lid maak nie, maar indien jy in die toekoms besluit om by die ATKV aan te sluit, sal jy dit wel kan doen.
Sit jou kreatiewe hoed op, speel rond met die temas en druk jou gevoelens in woorde uit. Wanneer laas het jy vrye teuels aan jou verbeelding gegee?