ATKV-DigiSkryfwenner se stories kom soek háár
Vanjaar se ATKV-DigiSkryfkompetisie het weereens groot belangstelling uitgelok. Die kompetisie bied aan skrywers, oud en jonk, van die snikhete Beaufort-Wes tot in die bibberkoue Yakutsk, ’n geleentheid om met hul skryftalent te pronk – solank dit in Afrikaans is! Die beoordelaars was dit eens dat wonderlike verhale hierdie jaar ontvang is – verhale wat verder uitgebou kan word om groter leesgenot te verskaf. Bertha Lewis (49) van Zeerust, het vanjaar met die louere weggestap in die volwasse kategorie (25-59 jaar) met haar verhaal, “Spore van Krige”. Sy vertel meer oor dié verhaal, ander stokperdjies en haar groot liefdes.
‘Spore van Krige’ gaan beslis oor veel meer as net ’n woelige seun wat aspris die klas ontwrig met vreemde vrae oor skoengroottes. Vertel asseblief ’n bietjie meer oor die idee en gedagtes agter die storie.
Die ATKV het drie temas gegee waarvolgens skrywers kon skryf en ek het die tema ‘Spore’ gekies. Die woordtelling wat die ATKV gee, is min – ongeveer 500 woorde – so jy moet in ’n kort tyd jou storie vertel. My storie handel oor ’n graad-10 leerder, Aiden, in die geskiedenisklas op ’n warm Vrydagmiddag in die Karoo, en die dialoog tussen hom en die juffrou. Aiden wil eintlik ’n rapper wees, maar is baie beïndruk met geskiedenishelde en die spore wat hulle getrap het. Hy maak toe ’n lied daaroor op. Die storie sinspeel tog daarop dat Uys Krige dalk Aiden se oupa in die storie is en dat dit dalk die rede is vir Aiden se liefde vir die taal, musiek en geskiedenis. Aiden wil ook graag ’n held in eie reg wees en leef hom uit in sy musiek, wat dan sy vorm van kuns is, om ook ‘diep spore’, volgens hom, in die geskiedenisboeke te kan trap. Ek dink elkeen van ons streef na daardie iets wat ons kan nalaat en dit is vir my ook een van die temas uit die storie.
Jy is deel van ’n skrywersgroep wat jou aangemoedig het om in te skryf vir ATKV-DigiSkryf…
Ek is deel van ’n heerlike, informele skrywersgroep in Zeerust, wat my vriendin, Elsabé Fouché, twee jaar terug in die lewe geroep het. Ons kuier gereeld saam. Toe sy die groep begin het, het Elsabé geskryf: ‘Die idee van hierdie groepie is om mekaar te inspireer en aan te moedig met die skryfwerk.’ Ons stel vir onsself doelwitte en soos Elsabé weereens in ’n WhatsApp-boodskap byvoeg, ‘minstens darem een keer ’n maand ’n pennegrif te hê wat ons vir mekaar kan voorhou, oor enige onderwerp en in enige formaat.’ ’n Ondersteuningsnetwerk is belangrik as ’n mens ’n beginnerskrywer is. Van ons het al wel skryfkursusse by ander skrywers bygewoon en dan kom vertel ons daarvan in ons groep. Dit help om ’n bietjie struktuur aan ons samekoms te gee, byvoorbeeld het ons al temas deurgetrap soos hoe om beter dialoog te skryf. Ons het ook vir René van Zyl, die bekroonde skrywer, genooi om vir ons ’n kort, kreatiewe skryfkursus in Mei te kom aanbied en dit was ’n reusesukses. Ons as skrywers het geleer van perspektief en diep perspektief, storielyn en redigering. Ek dink die heel belangrikste van ons skrywersgroep is die gedeelde belangstelling, ’n veilige hawe waar ons mekaar se skryfsels kan deel, lees en positiewe kritiek kan lewer en die aanmoediging om vir kompetisies in te skryf … Daardie woorde, ‘Ja, toe, man, skryf in! Jy is goed genoeg!’ – dít is van onskatbare waarde.
Waar kom jou liefde vir stories skryf vandaan?
Ek sê altyd, jy skryf of vind nie ’n storie nie – die storie en karakters kom soek jou. Ek gaan sit voor my rekenaar en dan steek die karakters hul hande op, kry ’n lewe en sleep sommer die plek en woorde saam. Só het Aiden ’n lewe van sy eie gekry en ek het geweet hy is ’n woelige outjie met ’n diep siel. Só skryf ek maar baie van my stories. My mentor is Janie Oosthuizen en ek het ook skryfkursusse by haar gedoen. Ek dink sy sal hierdie storie wat ek geskryf het, beskryf as ’n slice of life. Ek hou daarvan om sulke gedeeltes van die lewe vas te vang in ’n kort storie. Dis die lekker gedeelte van skryf. Die moeilike gedeelte van skryf is om te gaan sit – die dissipline daaragter!
Wie is Bertha Lewis?
Ek is tans ’n mamma vir ons vier menskinders en ons drie hondekinders, ’n vrou vir my man Riaan, die mamma-ma van Lingi (ek vertel ’n bietjie later oor dié beertjie), ’n vriendin, ’n boorling van Pretoria, ’n boer se vrou van Zeerust en ’n aktiewe lid van die Gereformeerde Kerk ter plaatse. Ek het spraak-taalterapie en oudiologie by Tukkies studeer en was baie betrokke in die veld van neonatale gehoorsifting by verskeie hospitale.
Spraak- en taalontwikkeling lê my baie na aan die hart en dit was my grootste beweegrede om vir Lingi, die pratende beertjie, te ontwikkel. In 2019 het ek besluit ek wil ’n beertjie maak wat stories kan vertel, aangesien ek gesien het dat kinders baie visueel ingestel is met die gebruik van selfone en tablette, en dat die ouditiewe agterweë bly. Só het ek saam met ’n ingenieur die elektronika vir die beer ontwikkel, besluit hoe sy lyfie en borduurwerk moet lyk, asook die teks geskryf wat Lingi praat. Tans het hy ’n woordeskat van 4 000 woorde, wat insluit liedjies, rympies, dieregeluide, telwoorde, kleure en stories in beide Afrikaans en Engels. My stokperdjies is kuns, lees, storieskryf, reis en om ’n klankbord vir my kinders te wees.
Skryf jy al Lingi se stories?
Ja, ek skryf self die stories. Lingi is gemik op die voorskoolse kleuter en op vier- tot vyfjarige ouderdom moet ’n kleuter na ’n storie van vier tot vyf minute lank kan luister en ’n paar kort vragies kan beantwoord. Ek het dus die bekende sprokies herskryf tot stories van tussen 400 en 500 woorde, met korter sinne en eenvoudiger taal. Verder het ek onlangs sewe stories met ’n trekkertjie as hoofkarakter geskryf en Anrich Herbst is die stemkunstenaar wat die stories opgeneem het. Die storielyn wissel van die trekkertjie wat siek is en die motorwerktuigkundige-dokter wat hom help, tot ’n partytjie op die plaas en hoe trekkers anders partytjie hou as menskinders. Kinders is baie lief vir diere as karakters en ek het ook sewe plaasstories geskryf met Kolle die hond as hoofkarakter en sy manewales op die plaas. Ons woon self op ’n plaas en ek dink die tema is beslis te bespeur in baie van my stories!
Lees Bertha en al die ander ATKV-DigiSkryf-wenners se verhale hier.