ATKV-DigiToneel: Magnetiese top-16 slaggereed

Die gewildheid van die ATKV se eie realiteitsreeks vir televisie, Gekies vir die Kollig, was duidelik te sien uit die 403 410 kykers oor vier episodes van dié program, wat uitgesaai is op VIA (DStv-kanaal 147).
ATKV-DigiToneel-deelnemers kan in 2025 weer die geleentheid kry om hul spel vir die kamera te ontwikkel en moontlik hul buiging op TV te maak in ’n spesiale vyf-episode-reeks ter viering van die vyfde seisoen van Gekies vir die Kollig.
ATKV-DigiToneel is ’n voorloperplatform vir tieners om hul eie monoloë onder ’n temawolk te skryf en dan vir beoordeling te verfilm.
Vanjaar put ons inspirasie uit die konsep “magneties”.
Jou talent en passie is die uitgesoekte magnete wat vrylik en vreesloos in die ATKV se digitale toneelruimte kan rondbeweeg om elke kyker magneties te beïnvloed. Dit sorg dat elkeen ’n bepaalde rigting kan inslaan en met ’n unieke krag in jou storierigting verdwaal om iets te voel en verandering teweeg te bring.
Die volgende woorde in die magnetiese temawolk was die wegspringplek vir skrywers, kinematograwe en akteurs se nuwe monoloë:
- Onweerstaanbaar
- Swaartekrag
- Wentelbaan
- Anker
- Verdring
Inskrywings het weereens ingestroom en dit het kopkrap geverg om die top-16 aan te wys.
Mentors Hannah Borthwick, Jacques Bessenger, Lindsey Cele en Marlo Minnaar is dit eens: “Die wyse waarop tieners vandag ’n monoloog in ’n mini-kortfilm verfilm, is van hoogstaande gehalte en grensverskuiwend.”
Met ATKV-DigiToneel is daar geen kortpaaie deur byvoorbeeld bestaande werk af te stof en nuut aan te bied nie. Die doel met ATKV-DigiToneel is om nuwe werk te skep en dit vir die kleinskerm te verfilm.
JJ van Niekerk, projekorganiseerder van ATKV-DigiToneel, sê die konstante groei in die kwaliteit van vanjaar se inskrywings spoor die span wat deel is van die projek aan om nog verder aan die kreatiewe vraag te probeer voldoen. 30% van alle inskrywings in die eerste ronde het ’n persentasie bo 80% behaal en ’n goue toekenning vir die produksie ontvang.
“Dit maak nie saak watter temas ons vir hierdie tieners gooi nie, hulle skep kreatiewe karakters met interessante storielyne wat jou binne vyf minute boei,” sê JJ.
Almal wat ingeskryf het, ontvang, benewens hul toekennings vir prysenswaardige prestasie in die eerste ronde, ook persoonlike stemnotas van twee mentors op die paneel. Hierdie notas kan gebruik word om hul werk verder te verfyn.
Die top-16 skaaf nou aan hul inskrywings en word dan verder deur nog twee beoordelaars gementor op hul reis na die nasionale eindronde, wat in Oktober tydens die vyfde seisoen van Gekies vir die Kollig op VIA uitgesaai sal word.
Die top-16 is:
Naam van deelnemer |
Produksie |
Blyde Schoeman |
Heel |
Chermelè Wolmarans |
Patches |
Dylan Maritz |
Ignus |
Eduard de Villiers |
Skop |
Ethan Bester |
wondermooi |
Janru Steenkamp |
’n Montage vir die man in die maan |
Keagan Cooper |
Oudi(sies) |
Khian van der Boon |
Minus een |
Landi Schutte |
Zombie |
Line Allen |
’n Lem sonder ’n landlyn |
Moya Erasmus |
Die somtotaal van sewentien |
Nina Strydom |
Wou jy my iets vra? |
Theuns Pieters |
Sake van die smart |
Willem du Plessis |
Kamer rol! En aksie! |
Zanje Bodenstein |
Skooldasse breek nie… |
Zia van Wyk |
Sink |
Hou die ATKV se webwerf en sosialemediablaaie dop wanneer die top-8 op 13 Junie aangekondig word.
Ons is opgewonde oor die sesde monoloogbundel, bestaande uit 26 nuutgeskrewe goue tekste wat saam met die vyfde seisoen van Gekies vir die Kollig in Oktober bekendgestel word.
Kyk hier na die bekendmaking van die top-16: https://www.youtube.com/watch?v=hfkBHsv4tLo