ATKV eer Kunstekaap by Tienertoneelfinaal
Duisende jongmense, honderde optredes en tientalle repetisies, en nou is dit tyd vir die ATKV-Tienertoneel se groot finaal. Die finaal vind van 28 September tot 3 Oktober by die Kunstekaap in Kaapstad plaas en beloof om weer ’n viering van jong talent te wees. Daar is vanjaar ook meer as net tienertoneel om te vier, want dié teatersentrum vier boonop sy 55ste bestaansjaar.
Die ATKV het ’n besonderse verhouding met die Kunstekaap en die organisasie is al jare lank ’n rolspeler in die Kunstekaap se visie vir jeugontwikkeling, ontwikkeling van gehore en die skep van toegang tot die kunste.
“Die Kunstekaap se 55ste verjaardag het daarom vir ons ’n besonderse geleentheid gebied om hierdie verhouding nie net met woorde te erken nie, maar deur iets tasbaar agter te laat,” vertel JJ van Niekerk, projekbestuurder van die ATKV-toneelaanbod.
Die ATKV-Tienertoneel se tema is “asem” en hulle het ’n groot driedimensionele kunsinstallasie (wat die woord “asem” uitspel) ontwerp, wat tydens die finaal in die Kunstekaap-sentrum geplaas word.
Wat die kunswerk só besonders maak, is dat die letters van die kunswerk met oorspronklike krabbels (doodles) oorgetrek word, wat die stories en wêrelde van die fees se 21 produksies verteenwoordig.
Die kunswerk, wat van volhoubare materiaal gemaak is, gaan aan die begin van die week nog swart en wit wees, maar dan word feesgangers, deelnemers en besoekers deur die week genooi om ’n prentjie te kies en dit in te kleur.
JJ verduidelik dat die installasie dan met elke kleur en merkie gaan verander totdat die teatergemeenskap uiteindelik sáám die kunswerk voltooi het.
“Dit gee vir ons ’n eenvoudige, maar sterk metafoor. Kuns word nie deur instellings alleen geskep nie. Dit kry asem deur mense. Die voltooide kunswerk gaan aan die einde van die finaal namens die ATKV aan die Kunstekaap geskenk word as ’n blywende herinnering aan hul 55ste verjaardag, die ATKV-Toneelfinaal 2026, en die jong kunstenaars en gehore wat hierdie ruimtes met stories gevul het.”
Gerrie Lemmer, die ATKV se uitvoerende hoof van kultuur het die kunswerk tydens die opening van die finaal onthul. Die Kunstekaap se uitvoerende hoof, Marlene le Roux, het die eerste krabbel ingekleur.
“Dis regtig besonders,” vertel JJ, “want dis so ’n eenvoudige visuele handeling om in te kleur, maar dit vertel hier ’n besonderse storie. Die Kunstekaap het oor 55 jaar gehelp om die ruimte te skep; en nou begin ’n nuwe generasie van kunstenaars en gehore om daardie ruimte verder met kleur, stories en lewe te vul.”
JJ noem dat die kunswerk ná die finaal by die teater agtergelaat word as geskenk van die ATKV aan die Kunstekaap. “Dis egter meer as net ’n geskenk, want dit is ook ’n herinnering aan elke jong kunstenaar, elke storie en elke gehoorlid wat in 2026 hier ‘asemgehaal’ het.”
Het jy geweet?
- Die ATKV-Tienertoneelkompetisie is die ATKV se oudste projek en is vanjaar al 62 jaar oud.
- Die kompetisie word jaarliks gewilder en skep ’n ruimte vir jong talent. Daar was vanjaar meer as 5 000 deelnemers. ATKV-DigiToneel: 85 produksies, 85 inskrywings. ATKV-Sêr: 14 produksies, 364 deelnemers. ATKV-Tjokkertoneel: 62 produksies, 1 325 deelnemers. ATKV-Tienertoneel: 190 produksies, 3 260 deelnemers.